deur
Elmer Grobler
'n Paar jaar gelede het ek 'n artikel geskryf met die titel, Wanneer God nie Antwoord nie. Hierdie is ‘n onderwerp waarmee elke Christen regdeur sy of haar geestelike lewe worstel – selfs nadat die Here sommige gebede op ‘n kragtige wyse beantwoord het. Hierdie onderwerp bly steeds relevant in my eie lewe. Daar is sekere belangrike gebede in my eie lewe, wat ek met my hele hart glo dat dit binne die Here se wil is, wat steeds onbeantwoord bly. Terloops, ek het al na so baie boodskappe geluister en boeke gelees oor gebed, dat ek al daardie waarhede uit my kop ken, maar daar was 'n ‘missing link’ – daar was iets weg wat ek nie raakgelees of -gehoor het nie. Wat was hierdie 'iets'?
Ek het begin soek na hierdie 'iets'. Die gevolg was dat die Here begin het om ‘n Bybelse waarheid aan my oop te breek wat ek gedink het ek verstaan, maar nooit doelgerig in my lewe toegepas het nie. Hierdie waarheid sluit aan by my begrip van die Drie-eenheid en die waarheid dat God in my woon deur die Heilige Gees. Ten spyte van alles wat ek al gehoor en gelees het oor die rol en werk van die Heilige Gees in die lewe van ‘n Christen, het ek steeds nie die volle implikasie van die inwonende Heilige Gees met betrekking tot gebed ten volle verstaan nie.
Ek het nog altyd hoofsaaklik gebid tot “my Vader wat in die hemel woon”, in die Naam van Jesus Christus my Here – en dit is reg. Maar na die uitstorting van die Heilige Gees het my Vader wat in die hemel woon, kom woning maak in die hart van elke weergebore kind van God. My Vader en Jesus Christus my Here, alhoewel steeds in die hemel woonagtig, woon ook nou in mý deur die Heilige Gees. Al wat verskil is die plek en mate van besit wat ek aan Hom gee in my lewe.
Wat is die implikasie van hierdie waarheid met betrekking tot gebedsbeantwoording? Hierdie is ‘n moeilike saak om te verduidelik, maar ek het my Vader wat in die hemel woon, gevra om dit deur Sy Heilige Gees wat binne-in mý woon, aan jou wat hier lees, te verduidelik. Met ander woorde, die Heilige Gees sal my gebrekkige verduideliking aan jou kom openbaar as jy ontvanklik is vir Sy stem. Ek sal graag van jou wil hoor as Hy my gebed beantwoord het in jou lewe. Hier kom dit.
In plaas daarvan dat ek die Here vra om sekere dinge te doen wat ek nie kan doen nie, besef ek nou dat die rede waarom ek nie gebedsbeantwoording kry nie, is omdat ek verwag dat my Vader wat in die hemel woon dit moet doen sonder my betrokkenheid. Nou bid ek dat my Vader en Verlosser wat binne-in my woon deur Sy Heilige Gees my as Sy instrument sal gebruik om my gebed tot uitvoering te help bring. Ek bid hoofsaaklik vir dinge waarvoor Hy my geloof gee om deur my te doen – al is om te bid al wat ek weet om te doen.
Een van die gebede wat ek elke dag bid, is vir herlewing in die Kerk van Jesus Christus en die mobilisering van Christene om deur gebed en finansiële ondersteuning betrokke te raak by die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag en bereiking van elke volk, stam en taal met die Evangelie – iets waarvoor ek die Here vertrou om daar buite te doen. Ek bid hierdie gebed al vir 20 of meer jare, en behalwe vir ‘n ligpunt hier en daar, sien ek reg rondom my sendelinge op die ashoop van moedeloosheid, is die Kerk in die breë steeds grootliks onbetrokke, en bly my gebed grotendeels steeds onbeantwoord. Bid ek verkeerd, of verteenwoordig hierdie gebed nie die wil van God nie?
Ek het egter anders begin bid. Ek bid nou so: “Dierbare Vader en Here Jesus Christus wat deur U Heilige Gees binne-in my woon, ek hou U vas vir ‘n kragtige werking van U Heilige Gees in U Kerk en om U kinders te mobiliseer om U Groot Opdrag te help voltooi en elke volk, stam en taal met die Evangelie te bereik, ter voorbereiding en in verwagting op U spoedige wederkoms. Ek stel myself nou tot U beslkikking om U doel in en deur my eie lewe tot uitvoering te bring – gebruik my as U instrument op watter manier U ookal wil – U woon in my en ek is U instrument. Ek vertrou U om my gebed in en deur my eie lewe te beantwoord. Dankie dat U my geloof gee om U hiervoor te vertrou.”
Twee dae nadat ek so begin bid het, het ek ‘n interessante ondervinding gehad. Toe ek in my kombuis kom om ontbyt te eet, vind ek dat ‘n muis my ontbytkos bygekom het en alles lê verstrooid in my ontbytkosrak. Ek is toe winkel toe hier naby my buite die stad om ander ontbytkos te koop, maar die winkel het nie voorraad gehad van dit wat ek soek nie. Ek moes toe noodgedwonge verder ry na ‘n winkel ‘n paar kilometer verder. Daargekom het hulle ook nie vooraad van die betrokke item nie. Vir gesondheidsredes moet ek egter hierdie item kry en ek ry toe nog ‘n paar kilometer na ‘n ander winkel ongeveer 20 minute se ry vanaf my woonplek. Daargekom het hulle ook nie voorraad nie – die produk is klaarblyklik uit voorraad by die produsent. Redelik gefrustreerd is ek op die punt om die winkel te verlaat, toe ‘n jongman – duidelik uit ‘n arm gemeenskap – my voorkeer en vir hulp vra om kos te koop vir hulle gesin.
Nie nog dit ook nie! -- dink ek: Ek kan nie eers (ontbyt)kos vir myself kry nie, en boonop het ek reeds my eerste en volle tiende plus my addisionele geloofsoffer vir die maand gegee en het bo en behalwe dit, ook reeds twee spesiale bydraes gemaak vir barmhartigheid wat my begroting vir die res van die maand in die uitdagingskategorie plaas. Bo en behalwe dit het my (15 jaar oue) motortjie se ABS-remstelsel pas ingegee en hulle kwoteer my R28,000 (wat ek nie het nie) net vir die part, sonder arbeid. Eintlik moes ék iemand voorgekeer het om mý te help, as dit nie was vir die feit dat die Here na 35 jaar as 'n sendeling sonder 'n salaris, my nog nooit in die steek gelaat het wanneer ek my eerste en volle tiende vir Hom gegee het nie!
Onmiddellik besef ek die Heilige Gees is besig om my gebed hierbo te beantwoord en ek sê vir die jongman om te gaan kry wat hulle gesin nodig het. Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, neem van my besit en ek sien die hand van God werksaam in my lewe! Terwyl ek terug ry huistoe, skilder die Heilige Gees die prentjie vir my. God stuur ‘n muis om my ontbytkos op te vreet .... en sorg dat elke winkel uit voorraad is om my by die regte plek op die regte oomblik te kry! Daar is iemand anders wat honger is! Maar Hy het ‘n groter plan! Hy is besig om my gebed te beantwoord met ‘n boodskap ... vir elke Christen!
Dit is net moontlik dat jy wat hier lees deel is van God se plan om my gebed te beantwoord. Is daar ‘n ‘muis in jou spens’? Is jy hoofsaaklik besig om jou begroting te laat klop? Is jou begroting beskikbaar vir die Heilige Gees om Sy plan vir die bereiking van die wêreld met die Evangelie in en deur jou lewe tot uitvoering te help bring? Daar is iemand anders in die onbereikte wêreld wat honger is – honger is vir die Evangelie wat hulle nog nooit gehoor het nie! Hoe kan die Here jou gebruik? Wat het die Here oor jou pad gestuur om jou gebed te beantwoord? Wat hou jy terug vir God? Het die Heilige Gees volle beheer van jou lewe (insluitend jou finansies en begroting) sodat Hy jou gebed kan beantwoord? Jy kan die Here met jou begroting en jou finansies vertrou as jou lewe ten volle aan Hom toegewy is.
Wil jy meer lees? Volg hierdie skakel: Die Geheim van ‘n Oorvloedige, Doelgerigte Lewe.