Die Oplossing

Aan jou gebring deur Projek KuberWêreld
In vennootskap met Bybelgelowige Christelike kerke en medewerkers

Die probleem
Jy soek na ‘n oplossing, nie waar nie?

Jy is op soek na 'n oplossing vir een of ander probleem, krisis of uitdaging in jou lewe, nie waar nie? Hoe weet ons dit? Ons weet dit omdat elke mens op aarde regdeur sy of haar lewe soek na oplossings — en ons wat hierdie boodskap aan jou bring is daarby ingesluit! Ons skryf hierdie boodskap vanuit ‘n persoonlike ervaringsveld. Om dit anders te stel — ons weet waarvan ons praat!  Net soos jy, soek ons ook ons hele lewe lank na oplossings vir 'n verskeidenheid van probleme en uitdagings, grotes en kleintjies — maar elke keer het ons die oplossing by dieselfde bron gevind!  Ons glo dat ons die geheim van die oplossing ontdek het. Ons glo dat ons jou kan help op jou pad van soeke na ‘n oplossing vir jou probleem.

Miskien worstel jy met een of ander verhoudingsprobleem. Miskien worstel jy met onsekerheid oor jou toekoms. Miskien worstel jy met een of ander siekte of liggaamlike probleem. Miskien worstel jy met emosies, vrese, seer, woede of depressie. Miskien is daar een of ander groot uitdaging in jou lewe waarvoor jy ‘n oplossing moet vind. Miskien is jy in ‘n doodloopstraat vriendskaps– of liefdesverhouding betrokke. Miskien, is jou huwelik in ‘n doodloopstraat. Miskien is jou verhouding met jou ouers, jou kinders, jou kollegas of andere op ‘n pad van konflik. Miskien is jy by jou werk in ‘n doodloopstraat. Waarvoor soek jy na ‘n oplossing in jou lewe?

Die geheim

Ons wil sommer hier reg aan die begin ‘n groot geheim aan jou bekend maak wat baie, baie mense nie verstaan nie. Die geheim is dat die oplossing vir jou probleem — wat dit ookal mag wees — lê in die eerste plek by God! Hoe weet ons dit? Hoe weet ons dat jou oplossing nie in die eerste plek lê by die regte werk, die regte kerk, die regte man of vrou, die bank, die wetenskap, die sielkunde, die dokter, in die ekonomie, of in die beroeps– of sakewêreld nie? Ons weet dit want God is die Skepper van hemel en aarde en van al hierdie dinge — en Hy het ook vir jou geskep met, en vir ‘n bepaalde doel! Daarom is dit net God wat jou doel en lewenspad vir jou kan uitwerk! Hoe langer jy self jou eie probleem met jou eie planne, op jou eie manier probeer oplos, hoe langer sal jy soek na die ware oplossing!

Wil jy graag meer weet? Lees gerus verder.

Die primêre doel van jou beproewing

Die ander kant van die geheim is dat God 'n besliste doel het waarom Hy jou beproewing toelaat. Die primêre doel agter elke beproewing, krisis, probleem en uitdaging in jou lewe, is deur God bedoel om die antwoord by Hom te soek! Is daar ‘n krisis of soeke na een of ander oplossing in jou lewe? Die primêre doel daarvan is om jou na God toe uit te dryf. Die primêre doel van elke beproewing en krisis in jou lewe is om jou tot stilstand te bring sodat jy ontvanklik sal wees vir dit wat God vir jou wil sê! Die primêre doel van elke beproewing en krisis in elke mens se lewe is om ons fokus van ons onsself en ons omstandighede af te haal en op God en Sy wil en plan vir ons lewens te fokus! So het God byvoorbeeld Sy betrokkenheid by Sy volk Israel verduidelik in Deut 8:2,3: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.  Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Jesus het hierdie selfde vers aan die duiwel voorgehou toe Hy in die woestyn deur die duiwel versoek is. Lees gerus die hele hoofstuk 8 van Deuteronium.

Die wêreld sal vir jou ander raad en antwoorde gee. Die wêreld sal onder andere vir jou sê, jy moet net deursettingsvermoë aan die dag lê en positief dink oor jou probleem. “Elke donker wolk het ‘n goue rand.” "Moenie dat jou probleme jou onder kry nie." Dit klink alles baie mooi en reg, en gedeeltelik is dit ook waar. Dit is egter dikwels slegs ‘n halwe waarheid — en kan jou op ‘n dwaalspoor plaas! Die waarheid is dat God ‘n baie unieke boodskap net vir jou het in elke beproewing en krisis, en as jy nie daardie spesifieke boodskap reg hoor en verstaan nie, sal jy uitmis op God se volmaakte doel en plan vir jou lewe vorentoe! God wil iets baie spesifiek net vir jou sê!

Hoe weet jy wat God vir jou wil sê?

As jy die stem van God in jou lewe wil hoor is daar twee voorwaardes:

1. Jy moet die regte gesindheid en hartsingesteldheid hê. 

Jy moet ‘n ontvanklike hart hê. Met ander woorde, jy moet oop wees vir dit wat God vir jou wil sê. Jy moet bereid wees om God te gehoorsaam as Hy met jou praat. Met ander woorde, jy moet bereid wees om jou lewe in harmonie te bring met God se geopenbaarde wil vir jou lewe. Dit beteken jy moet bereid wees om die pad en die roete waarop jy is, te verander na God se pad en roete vir jou lewe. Jy moet ‘n bekeerlike hart hê!

Die rede waarom baie mense nooit God se stem hoor nie, is omdat hulle nie ‘n bekeerlike hart het nie. Daar is rebellie en eiegeregtigheid in hulle hart. Met ander woorde, hulle is nie regtig daarop ingestel om aan God se wil vir hulle lewens gehoorsaam te wees nie — hulle wil net hê dat God hulle probleem moet oplos en dan wil hulle verder doen, maak en leef soos hulle wil. Ons lees van so ’n geval in die Bybel in die verhaal van koning Saul in 1 Sameul. Saul se hart was nie op gehoorsaamheid aan God se wil en plan vir sy lewe ingestel nie en die Here het nie meer met hom gepraat nie. Ons lees in 1 Sam 28:6: “(Saul) het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete. Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Soek vir my 'n dodebesweerster sodat ek haar kan gaan raadpleeg.” ...” As jy nie opreg is in jou soeke na God se wil vir jou lewe nie, sal God Hom nie aan jou openbaar nie. 

Aan die anderkant is daar wonderlike beloftes in die Bybel vir hulle wat die Here met 'n opregte hart soek. Ons lees byvoorbeeld in Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart." In Mat 7:7 sê Jesus: "Bid en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word."

2. God praat altyd deur Sy Woord!

Die tweede voorwaarde om te hoor wat God vir jou wil sê, is om te verstaan dat God nooit met iemand praat op enige ander manier as deur Sy Woord nie. God gebruik somtyds ander maniere om ons te lei na Sy Woord toe, maar Hy praat altyd primêr deur Sy Woord. God gebruik NOOIT ‘n ander manier om met ons te praat as ‘n substituut vir Sy Woord nie — nie omstandighede, rampe, seëninge, tekens, wonders, profesieë, gesigte, drome of wat ookal nie. Hy kan wel hierdie dinge gebruik om jou na die Woord toe te lei of om Sy Woord vir jou te bevestig, maar dit vervang nooit Sy Woord nie!

Nou, hoe weet jy wat God vir jou wil sê in die Bybel? Die Bybel is ‘n dik boek en daar is baie verhale, lering en vermaninge wat op verskillende omstandighede van toepassing is. Hoe weet ek presies wat God vir my wil sê? Kan ek my oë toemaak, die Bybel oopmaak en my vinger op ‘n vers druk en so weet wat God vir my sê? Beslis nie!

Die sentrale boodskap van die Bybel

God se boodskap aan my persoonlik is altyd in harmonie met die sentrale boodskap van die Bybel. (As jy twyfel of jy die Bybel as God se Woord kan vertrou, lees gerus hierdie artikel.) Hier onder gee ons vir jou ‘n opsomming van die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel en God se skeppingsdoel vir die mens. Die Evangelie van Jesus Christus is in werklikheid die vervulling van God se skeppingsdoel vir die wêreld en die mens!

Die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel is dat God besig is om ‘n nageslag, ‘n familie vir Homself en ‘n bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld, om die hemel te bevolk deur die Evangelie van Jesus Christus; deur hulle te versamel uit elke volk, stam en taal in die wêreld; en die beeld van God wat verlore gegaan het met die sondeval, in hulle lewens te herstel; met die doel om hulle uit te haal uit die teenswoordige wêreld om met die wederkoms van Jesus Christus en die bruilof van die Lam met Hom verenig te word in ‘n ewige liefdesverhouding — om in ewigheid saam met Hom te regeer oor die skepping.

Hierdie Goddelike nageslag en familie word in die Bybel die 'Kerk' genoem — die Ekklesia — die uitgeroepenes. Wie en wat die Kerk presies is, sal ons net-nou in meer besonderhede verduidelik.

Paul Billheimer som dit so pragtig op. Hy sê:

"The universe, including this planet, was created for one purpose: to provide a suitable habitation for the human race. The human race was created in the image and likeness of God for one purpose: to provide an eternal companion for the Son. After the fall and promise of redemption through the coming Messiah, the Messianic race was born and nurtured to bring in the Messiah. And the Messiah came for one intent and only one: to give birth to His Church, thus obtaining His Bride. The Church, then — the called out body of redeemed mankind — turns out to be the central object, the goal, not only of mundane history but of all that God has been doing in all realms, from all eternity." (* Paul E Billheimer, Destined For The Throne (© Christian Literature Crusade, Inc., 1975) p 21)

Die Evangelie staan sentraal

Liewe vriend en vriendin, daar is niks wat God ooit vir jou sal of wil sê, gee of doen, wat nie in absolute harmonie is met die inhoud van die Evangelie nie! Die Evangelie van Jesus Christus is die vervulling van God se skeppingsdoel en die sentrale en wesenlike inhoud van die boodskap van die Bybel — en Jesus Christus is die middelpunt van die Evangelie. Dus, as jy wil weet wat God vir jou wil sê in jou beproewing, krisis, of probleem — moet jy in ‘n intieme, persoonlike liefdesverhouding met Jesus Christus staan!

My vraag aan jou is dus: staan jy in ‘n intieme, persoonlike liefdesverhouding met Jesus Christus — die God van die Bybel? ‘n Mens kan natuurlik slegs in so ‘n verhouding met Jesus Christus staan as jy “ja” kan antwoord op elkeen van die onderstaande stellings. Let wel, die onderstaande stellings is nie voorwaardes vir redding nie — dit is slegs die gevolge en simptome daarvan!

Kan jy “ja” antwoord?

As jy nie “ja” kan antwoord op al die bogenoemde stellings nie, moet ons ongelukkig vir jou sê staan jy nog buite God se wil en plan vir jou lewe en is jy verlore! Dan staan jy nog in ‘n gebroke verhouding met God! Dan staan jy nog onder die oordeel van God! Dit is ongelukkig so dat baie, baie getroue kerkmense geen sekerheid van hulle redding het nie, terwyl baie op valse fondamente bou! Is jy dalk een van hulle?

Omdat ons omgee vir jou en in alle opregtheid vir jou in jou krisis of probleem wil help om by die ware oplossing uit te kom, lys ons hier onder 'n paar valse fondamente waarop baie wat hulleself Christene noem, hulle redding bou. As jy in een van hierdie beskrywings pas, wil ons 'n ernstige beroep op jou doen om jou saak met God reg te maak en jou verhouding met Jesus Christus op die regte fondament te bou.

Voorbeelde van valse fondamente:

Die ware Kerk van Jesus Christus bestaan uit weergebore, bloedgewaste kinders van God. Is jy deel van die ware Kerk?

As jy absoluut seker is dat jy ‘n kind van God is, roep die Here jou in jou beproewing en stryd waarskynlik in die eerste plek tot ‘n dieper en algehele oorgawe aan Hom. Daar kan vele ander redes wees, soos byvoorbeeld in die geval van Job, waarom Hy beproewing oor Sy kinders toelaat. Maar as jy nie ondubbelsinnig seker is dat jy 'n geredde, bloedgewaste, weergebore kind van God is nie, wil God vir jou in jou beproewing, krisis, of probleem die volgende sê:

“My seun, my dogter — ek roep jou na die Kruis toe!”
Jes 1:18: ”Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”

“Bekeer jou tot My!”
Mat 4:17: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”

“Ek vra jou — gee My jou hart!”
Spr 23:26: “My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ‘n welgevalle hê in my weë.”

“Ek wil jou My kind maak!”
Joh 1:12: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; ...”

Miskien wonder jy, maar hoe gaan ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus jou krisis of probleem oplos? Die antwoord is dat die Bybel vol beloftes van uitkoms en oorwinning in tye van moeilikheid is. Hierdie beloftes geld egter slegs vir weergebore kinders van die Here! Jy kan jou probleem self probeer oplos, en miskien sal jy daarin slaag (vir nou) — maar jy sal God se doel met jou beproewing en jou lewe mis! Wil jy weet hoe om weer gebore te word? Volg hierdie skakel.

Om God se oplossing vir jou probleem en jou lewe te soek en te vind is die BELANGRIKSTE DING wat jy ooit in jou lewe sal doen!
Ons nooi jou om meer te lees by die skakels hieronder.
'Wil-Jy?' Skakels
Wil jy nou jou saak met God regmaak en seker maak van jou redding en wedergeboorte?
Volg hierdie skakel

Wil jy 'n hernude of dieper oorgawe aan die Here maak? Wil jy met die Heilige Gees vervul wees?
Volg hierdie skakel
'Lees-Meer' Skakels
Lees meer oor die doel van, en oplossing vir probleme en beproewing in jou lewe.
Die Oplossing

Lees meer oor God se doel met jou lewe en hoe om dit te vind.
Vind Jou Doel

Lees meer oor wedergeboorte en hoe om dit te ondervind.
Hoe Om Weer Gebore Te word
'Lees-Dieper' Skakels
Soek jy na ware vryheid? 
Word Vry!

Hoe Om Jou Ware Doel En Roeping In Die Lewe Te Vind
Volg hierdie skakel

Lees hier meer oor die vervulling met die Heilige Gees en hoe om dit te ondervind.
Volg hierdie skakel

Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

© Kopiereg 2018 Projek KuberWêreld.
Alle Regte Voorbehou.

| Privaatheid | Vrywaring