Aan jou gebring deur Projek KuberWêreld
In vennootskap met Bybelgelowige Christelike kerke en medewerkers
Om hierdie vraag te beantwoord moet mens teruggaan na die begin van die Bybel. In hoofstuk 1 en 2 van Genesis lees ons die verhaal van die skepping. Hier lees ons ook die oorspronkilke doel waarom God die mens gemaak het. Ons lees in Gen 1:26-28: "En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip."
Met ander woorde, eerstens het God die mens geskep na Sy beeld - na die aard van God. God het bedoel dat die mens Hom hier op aarde sou verteenwoordig. Tweedens het God die mens geskep om te regeer oor die aarde en die aarde te bestuur. Derdens het God die mens geskep om te vermenigvuldig - want God wil 'n nageslag en familie na Sy beeld hê. Hierdie nageslag of familie van God is bestem om uiteindelik, met die voleinding van die wêreld die bruid van God die Seun, Jesus Christus, te word en saam met Hom oor die skepping te regeer. (Openbaring 19-22.)
Om dit alles mooi te verstaan moet ons kortliks verduidelik op watter manier die mens na die beeld van God geskape is. Die Bybel openbaar God aan ons as 'n Drie-eenheid - Vader, Seun en Heilige Gees. Eerstens word God die Vader aan ons geopenbaar in Sy persoonlikheid en karakter - die Ou Testament gebruik verskeie Name van God om Sy wese en karakter aan ons te openbaar. 'n Mens kan sê dat die Vader aan ons geopenbaar word as die 'Siel' van God. Maar God word ook aan ons geopenbaar as Gees. Die Bybel sê immers God is Gees en dat ons Hom in Gees en waarheid moet aanbid. (Joh 4:24.) Dan word God ook aan ons geopenbaar in liggaamlike vorm, in Jesus Christus as God die Seun. God is dus 'n drie-enige Wese wat bestaan uit Gees, Siel en Liggaam.
Dit is dus geen verrassing dat die mens wat na Sy beeld geskep is, ook 'n drievoudige samestelling het nie, naamlik, gees, siel en liggaam.
In Genesis hoofstuk 3 lees ons egter van 'n groot katestrofe - die sondeval. Ons ken almal die verhaal van die sondeval, ons gaan dit dus nie herhaal nie. Dit is egter belangrik dat ons sal verstaan wat regtig met die sondeval gebeur het. Met die sondeval het twee dinge met Adam en Eva gebeur.
Die eerste ding wat met Adam en Eva gebeur het is dat hulle onder die heerskappy en vaderskap van God uitbeweeg het onder die heerskappy van Satan en sy vaderskap. Deur na die duiwel te luister het hulle hulself onderwerp aan sy orde, is hulle besmet met die verderflike saad van sonde en het Satan hulle vader geword. Die gevolg daarvan was dat hulle 'n sondige natuur deelagtig geword het. Hierdie sondige natuur was in hulle sielsarea of persoonlikheid en karakter gesetel - naamlik, die wil, intellek en emosie. Die gevolg daarvan was dat na die sondeval hulle keuses, denke en emosies deur hulle sondige natuur beheer is. So lees ons in Gen 3:7-10 dat die heel eerste manifestering van hulle sondige natuur was dat hulle ontdek het dat hulle naak was, vir God weggekruip het, en vrees ervaar het.
Die tweede ding wat met Adam en Eva gebeur het is dat hulle onder die oordeel van God gekom het. (Gen 3:14-19.) Hulle is aanvanklik as onsterflike wesens geskape, maar die Gees van God het Hom van hulle onttrek en hulle gees het dormant geword. Onsterflikheid is in die gees van die mens gesetel omdat dit die setel was van die Goddelike lewe in Adam en Eva. Hulle het hulle Goddelike lewe verloor - en daarmee saam hulle onsterflikheid. Hulle gemeenskap en intieme verhouding met God is verbreek want God het hulle ontneem van geestelike lewe deur die Heilige Gees van hulle gees te onttrek. Van die sondeval af is slegs die siel (persoonlikheid en karakter) en die liggaam met sy sintuiglike funksies aktief in die mens.
Ons kan dus duidelik verstaan dat Adam en Eva oorspronklik met twee lewensbronne geskep is - fisiese, menslike of natuurlike lewe - en geestelike, Goddelike of bonatuurlike lewe. Met die sondeval het hulle hul Goddelike en bonatuurlike lewe verloor en het slegs hul fisiese, menslike of natuurlike lewe wat sterflik is, bly voortbestaan.
Wat egter van wesenlike belang is om te verstaan is dat Adam en Eva se nageslag hulle sondige natuur en dormante gees oorerf met fisiese geboorte.
Net soos ons kinders ons DNA en natuur oorerf met geboorte, so het elke mens Adam en Eva se DNA en natuur oorgeêrf met geboorte. Daarom word elke mens geestelik dood, in 'n afgebroke verhouding met, en onder die oordeel van God gebore.
Nou kan ons begin verstaan waarom ons weer gebore moet word en wat wedergeboorte is. Wedergeboorte is die herstel van die mens se geestelike dimensie. Wedergeboorte is die lewendmaking en lewendwording van die mens se gees. Wedergeboorte is die geboorte van die mens se gevalle, dormante gees. Wanneer 'n mens se gees lewend word, word sy ewigheidsbestaan herstel. Wanneer 'n mens se gees lewend word, kom hy of sy in 'n persoonlike verhouding met God. Wanneer 'n mens se gees lewend word, word Goddelike, geestelike en ewige lewe in die mens herstel.
Die mens se dormante gees kan slegs op een manier weer lewend gemaak word en dit is deur God self. Wedergeboorte is dus die lewendmaking van die mens se gees deur God die Heilige Gees. Met wedergeboorte kom maak die Heilige Gees van God woning in die gees van die mens. Met wedergeboorte word die Goddelike natuur wat Adam en Eva met die sondeval verloor het, weer herstel in die mens. Met wedergeboorte word 'n mens geestelike taal deelagtig en daarom kan geen mens die Bybel verstaan tensy hy of sy weergebore is nie - al is jy Grieks en Hebreeus magtig. Wedergeboorte is die basiese en fundamentele grondslag en intreevlak van die geestelike lewe.
Dit is ook belangrik om te verstaan dat dit moontlik is om Christelik te wees sonder om weergebore te wees. Om die waarheid te sê die meeste mense wat hulleself Christene noem in Suid-Afrika is nog nooit weergebore nie. Dit is moontlik om in 'n Christelike huis groot te word, gedoop te wees (klein of groot), op die kerkraad te dien, en selfs om 'n dominee, pastoor, leraar, teoloog of sendeling te wees - sonder om weergebore te wees. Dit is moontlik om 'n sielsgeloof te hê sonder om geestelik lewend te wees. Dit is moontlik om 'n intellektuele of emosionele geloof te hê - sonder om weergebore te wees. Inteendeel, 'n GROOT persentasie van Christene in Suid-Afrika (en die wêreld) verwar wedergeboorte met intellektuele of emosionele geloof. Ons gaan net-nou verduidelik hoe 'n mens weet dat jy weergebore is.
Op grond waarvan kan 'n mens weergebore word? Ons het vroeër gesê dat die mens sy geestelike dimensie verloor het met die sondeval en dat elke mens met 'n sondige natuur en onder die oordeel van God gebore word. Op sterkte waarvan kan 'n mens nou weergebore word? Dit is natuurlik die wonderverhaal van die Evangelie van Jesus Christus.
Daar moes 'n bloedoffer gebring word - want God het bepaal dat op hemelse regsgronde (in terme van die wet van God) daar geen vergifnis van sonde sonder die vergieting van bloed sou wees nie. (Heb 9:22.) Met ander woorde, daar moes 'n plaasvervangende offer gebring word deur iemand wat sonder sonde is, en nie onderworpe is aan die verderflike saad van die Satan nie. Hierdie moes 'n volmaakte offer wees - en daar is slegs EEN Persoon wat aan hierdie vereiste voldoen - dit is God self!
Deur Sy plaasvervangende dood aan die Kruis van Golgota het Jesus Christus 'n volmaakte offer gebring en die volle prys betaal vir die sondeval, jou en my sonde, en die sonde van die hele wêreld. Daardeur het Jesus God se regverdige eis dat sonde met die dood gestraf word, bevredig; en deur Sy bloed wat gestort is het Hy aan God se wettige eis voldoen om die mens met God te versoen en die mag van sonde en Satan te verbreek.
Deur Sy opstanding uit die dood het Jesus Christus die mag van Satan verbreek wat mag oor die dood gehad het, en hom wettiglik gestroop van sy gesag en mag oor die menslike ras, terwyl Hy as oorwinnaar getriomfeer het oor sonde, Satan, die dood en hel! Terselfdertyd het Hy ook God se skeppingsdoel vir jou en my en ons ewigheidsposisie as mede-erfgename en Bruid van Christus kom herstel.
Joh 3:16,17: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word."
Fil 2:5-11: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader." (NAV)
Op 5:9: "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers."
Hieruit vloei daar veral twee groot gedagtes voort wat die moeite werd is om te noem. Die eerste is dat wanneer 'n mens die prentjie kry van God se plan om die sondeval te herstel, staan jy nie alleen verstom oor die geniale en briljante inhoud daarvan nie, maar jy staan verstom en verwonderd dat God jou en my so lief gehad het om tot so 'n drastiese stap oor te gaan om dit aan jou en my te bewys!
God bou Sy Koninkryk deur die vrywillige Wilsoorgawes van Sy skepsels deur so 'n intense demonstrasie van Goddelike liefde dat selfs die gehardste misdadiger daaronder sal buig wanneer hy dit sien en verstaan!
Jesus het vir Nikodemus gesê: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." ... "Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is." (Joh 3:3,8)
Ons het hierbo gesê dat baie mense verwar wedergeboorte met 'n intellektuele of emosionele geloof. Dit is moontlik om baie emosioneel oor die Christelike geloof te voel - maar dit is nie wedergeboorte nie. Dit is ook moontlik om op 'n intellektuele vlak die Bybel en die Christelike geloof vir jouself aan te neem - maar ook dit is nie wedergeboorte nie. Dit is moontlik om deur al die rituele van die Christelike geloof te gaan en selfs 'n hoë morele standaard van Christelike lewe te lei - sonder om weergebore te wees. Godsdiens en teologie moet nie verwar word met wedergeboorte nie! Dit is selfs moontlik om 'n sondaardsgebed te bid, jou 'hart' vir Jesus te gee, of 'tot bekering' te kom - sonder om weergebore te word!
Hoe is dit moontlik? Daar is besliste Bybelse voorwaardes vir wedergeboorte waarby ons net-nou sal stilstaan.
Nou hoe weet 'n mens dan dat jy weergebore is? Die resultaat en simptome van wedergeboorte is GEESTELIKE LEWE - nie godsdiens of teologie nie! Teologie en Bybelkennis is belangrik - maar nie as 'n plaasvervanger vir wedergeboorte nie! 'n Mens weet dat jy weergebore is wanneer jy geestelik begin lewe! Daar is twee geboortes - 'n fisiese geboorte en 'n geestelike geboorte. Fisiese geboorte is die begin van fisiese lewe - die geestelike geboorte (of wedergeboorte) is die begin van geestelike lewe en 'n persoonlike verhouding met God. Jy moet twee keer gebore word, fisies sowel as geestelik om die ewige lewe deelagtig te word. Geestelike lewe begin in 'n persoon die oomblik wanneer jy geestelik- of weergebore word, net soos fisiese lewe begin die oomblik wanneer 'n mens fisies gebore word. Op presies dieselde wyse dat 'n mens begin om fisies asem te haal by fisiese geboorte, so begin 'n mens om geestelik asem te haal met wedergeboorte.
Op presies dieselfde wyse dat 'n mens weet dat jy op 'n bepaalde dag fisies gebore is, so weet 'n mens dat jy geestelike gebore is op 'n bepaalde dag. Dus, as jy nie seker is of jy weergebore is nie, dan is jy nog nie weergebore nie, want as jy is, sal jy dit weet! 'n Mens mag miskien nie die dag en datum onthou dat dit gebeur het nie (tensy jy dit neergeskryf het), maar jy sal sekerlik weet dat dit gebeur het. Die Bybel sê in Rom 8:16: "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; .." En 'n mens kan nie 'n kind van God wees tensy jy uit Hom gebore is nie, net soos 'n mens nie jou ma en pa se kind kan wees tensy jy uit hulle gebore is nie.
Jy sal weet dat jy weergebore is wanneer jy 'n persoonlike verhouding met die Outeur van jou doel het! Wanneer jy Jesus Christus as jou persoonlike Here en Verlosser ontmoet, weet jy dat jy jou doel gevind het. Jy mag nog nie die besonderhede en inhoud van jou doel verstaan nie, maar jy sal weet DAT jy jou doel gevind het!
Weet jy dat jy weergebore is? Is jy nie seker nie? Dan kan jy NOU seker maak! Wedergeboorte vind plaas in 'n oomblik deur 'n eenvoudige maar opregte gebed in geloof gebaseer op 'n basiese begrip van die Evangelie soos aan jou verduidelik is in hierdie program.
Deur geloof! Deur geloof in die verlossingswerk van Jesus Christus aan die Kruis! God is die enigste persoon wat in staat is om die mens se gees lewend te maak, en geloof is die katalisator wat iets menslik ondenkbaar verander in geestelike realiteit.
Geloof in Jesus Christus is die enigste metode wat God ingestel het waardeur die gevalle mens sy verlore Goddelike posisie kan herstel. Waarom geloof? In die eerste plek omdat ongeloof die moedersonde is. Adam en Eva het gesondig omdat hulle God nie geglo het nie - en die Satan se leuen geglo het. Maar tweedens sluit geloof alle menslike inspanning uit! Geloof sluit alle menslike prestasie en meriete uit. Geloof skeer alle mense onder dieselfde kam.
Jy kan nie jou eie dooie gees lewend maak nie! Jy kan nie jouself red nie! Jy kan nie jou posisie as kind van God verdien deur enige prestasie van jou kant nie. Geen mate van goeie werke, liefdadigheid, mildadigheid, hulp aan die armes, of watter goeie daad jy ookal aan kan dink, kan ooit vir jou 'n persoonlike verhouding met God verdien nie! Daar is slegs EEN weg - en dit is deur geloof in Jesus Christus!
'n Laaste opmerking oor geloof. Daar is 'n verskil tussen passiewe geloof en aktiewe geloof. Passiewe geloof is 'n passiewe aanvaarding van 'n waarheid, terwyl aktiewe geloof 'n persoonlike toe-eiening van 'n waarheid vir jouself is deur 'n aktiewe stap van jou Wil. Aktiewe geloof fokus op die Persoon van Jesus Christus, Sy kruiswerk en opstanding - en wat Hy vir JOU gedoen het!
'n Belangrike rede waarom daar miljoene mense in die wêreld is wat hulleself Christene noem, maar nie die volle vreugde, vrede en doel van 'n Christelike lewe ervaar nie, is omdat hulle slegs 'n passiewe geloof het. Passiewe geloof sal jou net mislik laat voel. Dit is soos om te glo jy's die erfgenaam van 'n Koninklike boedel, maar jy gaan voort om in armoede te leef omdat jy nie geregistreer het as 'n erfgenaam en jou erfporsie in besit geneem het nie.
Nog 'n belangrike rede waarom baie mense nie weergebore word wanneer hulle Jesus Christus aanneem as hulle Verlosser nie, is omdat dit vir hulle gaan oor wat God VIR hulle moet doen, terwyl dit vir Hom gaan oor wat Hy MET jou wil doen! Die eerste is 'n selfgerigte geloof - die tweede is 'n Godgerigte geloof.
Jy moet die volgende waarhede vir jou persoonlik toe-eien deur 'n opregte Godgerigte geloof, wat gekenmerk word deur 'n opregte berou oor jou verlore en sondige toestand:
1. Jy is fisies gebore as 'n sondaar omdat jy 'n sondige natuur van Adam en Eva oorgeêrf het as gevolg van die sondeval. Jy is gevolglik geestelik dood, in 'n gebroke verhouding met God en onder die oordeel van God gebore. Jou probleem is dus nie alleen dat jy sonde gedoen het nie, maar dat jy 'n sondaar is omdat jy uit die verderflike saad van die sondeval gebore is! Rom 5:12: "Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het .." Rom 3:23: "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, ..."
2. Jesus Christus het die volle straf vir jou sonde betaal aan die Kruis van Golgota met Sy bloed deur Sy dood en opstanding uit die dood. As gevolg van Sy verlossende werk aan die Kruis kan jy weergebore, geregverdig, en met God versoen word. Hierdie versoening en regverdigmaking is 'n gratis geskenk aan jou van God deur Jesus Christus. Rom 5:18: "Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe." Ef 2:8,9: "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie."
3. Hierdie gratis geskenk van God moet deur jou ontvang word deur 'n vrywillige reaksie van jou eie Wil deur geloof in gebed; waarna die wedergeboorte sal volg as 'n daad van God en bewys van jou aanvaarding deur Hom as Sy kind. Joh 1:12: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; .."
Hierdie vrywillige reaksie van jou Wil deur geloof in gebed moet minstens hierdie drie elemente bevat:
1. BEROUVOLLE BELYDENIS - dat jy 'n sondaar is, dat jy gesondig het, en dat jy oppad is na die ewige dood en dit verdien - 1 Joh 1:8,9: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig."
2. GELOOF - jy moet ten volle glo in die Here Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Here en Hom vertrou om jou te red van die straf, maar ook van die mag van sonde. Jy moet 'n algehele oorgawe van jou lewe aan Hom maak. Dit beteken dat jy moet Hom ten volle moet vertrou met jou hele lewe - Heb 11:6: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek."
3. BEKERING - jy moet jou rug draai op jou sondige lewe en gevalle toestand, en gewillig wees om daarmee te breek - Han 3:19: "Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, ..."
As enige een van die bostaande drie elemente ontbreek, sal wedergeboorte nie plaasvind nie.
Dis eenvoudig! As jy die eenvoudige gebed hieronder bid in opregtheid en met erns, deur jou rug te draai op jou sondige lewe, sal jy weergebore word en die Heilige Gees sal in jou gees kom woning maak. 'n Ander manier om dit sê is, Jesus Christus sal in jou hart kom woon. Jy kan ook in jou eie woorde bid, maar dit is belangrik dat jy reg sal bid en dat jy sal bedoel wat jy sê. Jesus het gesê: ".. Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie." Joh 6:37.(NAV)
Dierbare Here Jesus Christus, dankie dat U aan die Kruis van Golgota in my plek gesterf het.
Ek buig in berouvolle verootmoediging by die Kruis van Golgota in hierdie oomblik en ek bely dat ek 'n verlore sondaar is wat U redding, vergifnis en reiniging nodig het.
Vergewe asseblief my sonde en reinig my hart deur U kosbare bloed.
Kom woon in my hart deur U Heilige Gees en maak my U kind.
Ek draai in hierdie oomblik my rug op sonde en my gevalle sondige natuur en vertrou U om U doel in my lewe te herstel.
Ek neem U hierdie oomblik aan as my persoonlike Verlosser en Here en ek gee my hele lewe aan U oor.
Ek onderwerp my aan U doel, wil en plan vir my lewe en ek vertrou U om my lewe te verander en te herstel na U beeld.
Ek neem U op U Woord deur geloof en ek dank U dat U my gebed geantwoord het!
Amen.
Dan het jy so pas die eerste en belangrikste stap geneem in die ontdekking en vervulling van jou Godgegewe doel! Maar onthou - hierdie is slegs die eerste stap - dit is slegs die begin. Jy het nou by die deur van God se Koninkryk ingegaan waarbinne Sy doel en plan vir jou lewe geopenbaar sal word. Nou is jy binne die Koninkryk van God en nie meer daar buite nie. Maar nou is jy op 'n ontdekkingsreis na jou doel binne die Koninkryk van God. Nou is jy weergebore, maar net soos daardie pasgebore baba in die kraamsaal, is jou geestelike lewensbewustheid nog beperk tot 'n behoefte aan geestelike moedersmelk.
Daar is nou drie baie belangrike dinge nodig vir jou geestelike groei - dit is geestelike belydenis, -voeding en -versorging. Jy het 'n geestelike moeder en voeding nodig. Die volgende drie dinge is dus van wesenlike belang vir jou geestelike groei:
1. Jy moet teenoor iemand getuig dat jy jou lewe vir Jesus Christus gegee het, en tot bekering en redding gekom het. Jy kan dit op jou sosiale media doen as jy dit verkies. Openbare belydenis is 'n belangrike Bybelse beginsel wat die krag van die Heilige Gees in jou lewe sal ontsluit. Ons lees in Rom 10:9: "As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; ..." As iemand jou na hierdie webblad verwys of gelei het, laat hom of haar weet dat jy die Here gevind het. As iemand vir jou 'n "‘n Persoonlik brief van my aan jou. Help my asseblief!", gestuur het, antwoord hom of haar met 'n "Ja—al ses!” en vertel wat met jou gebeur het.
2. Jy moet elke dag jou Bybel lees en bid. Die Bybel is die Woord van God en God praat met Sy kinders primêr deur Sy Woord. Deur gebed praat jy met God, en deur die Woord en gebed bou jy jou persoonlike verhouding met die Here.
3. Jy moet inskakel by 'n plaaslike kerk of gemeente van weergebore kinders van die Here waar jy suiwer lering kan ontvang, geestelik versorg word, en deel kan word van 'n geestelike familie wat net soos jy, op reis is binne God se doel en plan vir hulle lewens.
Deel asseblief hierdie boodskap op jou sosiale media met andere
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media