Aan jou gebring deur Projek KuberWêreld
In vennootskap met Bybelgelowige Christelike kerke en medewerkers
As jy ‘n getuienis van wedergeboorte en redding het, maar begeer om met die Heilige Gees vervul te word, is die volgende ses beginsels van belang:
Hierdie is nie ‘n wettiese of slaafse navolging in jou eie krag van een of ander stel reëls of wette nie - dit is`n posisie wat jy moet inneem in geloof in terme van Rom 12:1: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens." (“... die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” NAV)
Dierbare Here Jesus Christus, ek verstaan dat U aan die kruis van Golgota met U eie Bloed betaal het, nie alleen vir my sondeskuld nie, maar ook vir my volkome verlossing en bevryding van die mag van sonde en my sondige natuur! Ek verstaan ook dat U ’n wonderlike plan van oorwinning en geestelike vrugbaarheid vir my lewe het en dat U my wil vul met U Heilige Gees!
Ek kom in hierdie oomblik in diepe verootmoediging na U troon van genade toe. Ek bely dat my lewe nie op U standaard is nie! Ek erken die verdorwenheid van my eie sondige natuur! Ek bely dat ek nie oorwinning oor sonde en my sondige natuur het nie en dat ek ’n lewe van geestelike neerlaag lei. Ek kom kniel nou in diepe berou oor my eie sondige toestand, my selfgesentreerdheid en my ongeloof by die kruis van Jesus. Ek bely ook elke sonde waarvan ek bewus is in my lewe. Was my rein van elke sonde in die Bloed van die Lam, maar skep ook vir my ’n rein hart, O God! (Bely elke bewuste sonde by die naam voor God, en sluit elke toegangspoort vir Satan en sy bose magte deur Jesus se bloed, in geloof.)
Ek draai hierdie oomblik my rug op elke sonde in my lewe en ek sluit ’n verbond met U om my te onderwerp in gehoorsaamheid aan U Woord, U wet, U wil en U plan vir my lewe! Ek gee in hierdie oomblik my sondige natuur oor om saam met Christus gekruisig te word, en ek neem my posisie in as gekruisigde saam met Christus in die geloof! Ek (plaas jou eie naam hierin) is saam met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my; en die lewe wat ek nou nog hier in die wêreld lewe, leef ek deur geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê! (Gal 2:20)
Ek kom gee my hele lewe, insluitende my WIL, INTELLEK en EMOSIE algeheel en onvoorwaar-delik aan U oor! Alles wat ek is en wat ek besit, gee ek aan U sodat U U hemelse plan in, en deur my lewe tot uitvoering kan bring! Wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus! (Fil 3:7-11) Kom neem asseblief beheer oor van elke terrein van my lewe! Vul nou my hart en lewe met U Heilige Gees!
Dankie vir die beloftes van U Woord en ek eien in hierdie oomblik elke belofte in U Woord vir myself toe in geloof! Ek glo U wanneer U sê dat U dié beloon wat U met hulle hele hart soek! Ek glo dat U nou volle beheer van my lewe oorgeneem het deur U Heilige Gees. Deur die geloof kom neem ek ook nou my opstandingsposisie en oorwinnaars-posisie in op grond van U Woord, in die Naam van Jesus Christus my Here! Ek loof en prys U, Here Jesus! Ek het U lief, Here Jesus! Amen.
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media