Projek KuberWêreld
Ons gesels oor jou leefwêreld
Word Vry!

Word
Vry!

deur
Elmer Grobler

Sit jy in 'n tronk? Miskien nie 'n fisiese tronk nie - maar jy voel of jy in 'n tronk sit - nie waar nie? Die lewe is besig om jou van alle kante af te druk ... en jou ontvlugtingsroetes gaan een na die ander toe.

Miskien is jy in 'n emosionele tronk
Miskien is dit die tronk van verwerping
Miskien  sit  jy  in  die  tronk van  depressie
Miskien  sit  jy  in  die  tronk  van  jou  verlede
Miskien  sit  jy  in 'n  tronk  van  ongelukkigheid
Miskien  is  dit  die  tronk  van  'n  swak  selfbeeld
Miskien  is  dit  die  tronk  van  'n  ongelukkige  huwelik
Miskien  sit jy in die  tronk  van politieke  denke en  sieninge
Miskien  is dit die tronk van jou huis of huislike  omstandighede
Miskien is dit die tronk van  jou werk of werksomstandighede
Miskien  is  dit  die tronk van vertroebelde  verhoudings
Miskien  sit jy in  die  tronk van  jou gedagtewêreld
Miskien  sit  jy  in  'n  tronk  van  eensaamheid
Miskien is dit die  tronk  van ouerlike gesag
Miskien  is  dit  die tronk van  jou  gewete
Miskien is dit die  tronk van pornografie
Miskien is dit die tronk van verslawing

Die tronk

Wat is die naam van jou tronk?
Daar is goeie nuus vir jou - jy kan vandag vry wees!

God het 'n groot en heerlike plan van vryheid vir jou lewe!

Jesus Christus het gekom om jou vry te maak!

Klink dit vir jou na geykte woorde of 'n stereotipe uitdrukking? Miskien het jy dit al baie gehoor, maar jy het dit nog nooit ondervind nie. Miskien voel dit vir jou na een of ander hiper-geloofsuitdrukking van sekere radikale geloofs- of kerkgroepe, maar jy (dink jy) weet voor jou siel dat dit nie so werk nie. Eintlik go jy dit nie regtig nie. Jy sal dit dalk nie, soos sommige ander openlik erken nie, maar daar is sekere dinge wat Jesus gesê het wat jy nie glo vandag op jou van toepassing is nie. Mens moet die Evangelie in die konteks van die geskiedenis verstaan, glo jy moontlik ook. Jesus se uitsprake moet verstaan word teen die agtergrond van die kultuur en omstandighede van daardie tyd.

As dit is wat jy glo moet ek vandag vir jou sê, jy is vasgekluister in jou eie teologiese tronk! Bevind jy jouself dalk vandag in die tronk van 'n selfgemaakte godsdiens?

Jesus het gesê:
"En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak." Joh 8:32. En,
"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees." Joh 8:36

Weet jy, Jesus het absoluut bedoel wat Hy gesê het en dit is ook VANDAG op JOU van toepassing! Miljoene mense regoor die wêreld het dit reeds ondervind en ondervind dit steeds vandag! Jy kan ook!

Ons wil jou graag help om vry te kom, en om dit te doen
moet 'n mens twee dinge reg verstaan.

1.   Verstaan Jou Tronk

Om vry te kom moet jy in die eerste plek verstaan in watter tronk jy is. Daar is drie kategorieë van tronke wat jy moet identifiseer:

A.   Die Kriminele Tronk

Die eerste is die kriminele tronk waar sondaars hulle bevind. Elke mens op aarde word 'n sondaar gebore en bevind hom- of haarself outomaties in die kriminele tronk - die tronk van sonde - totdat jy tot bekering kom! Ek veronderstel jy het hierdie waarheid al voorheen gehoor en ek sal dus nie verder hierop uitbrei nie.

Wanneer 'n mens jonk is staan die deure van hierdie tronk wawyd oop, daarom besef baie mense nie eers dat hulle in 'n tronk is nie. Hierdie tronk is 'n lekker tronk - jy word toegelaat om te doen net wat jy wil en elke moontlike sport, plesier en lewensaktiwiteit word hier aangebied, skemerkelkies word bedien en motiveringspraatjies is in oorvloed. Hier word jy aangemoedig om soos die ander te wees en saam te smelt met die gees en kultuur van die tyd. Daar kom egter 'n dag dat die Satan die tronkdeure toeslaan en oor die interkom kom daar 'n diep stem: "Die deur is gesluit!"

Baie van die mense in hierdie tronk is 'goeie' mense met (oënskynlik) hoë morele standaarde! Die grootste sonde wat hulle nog gedoen het was om kwaad te word vir die taxi wat voor hulle ingery het. Baie is selfs kerkmense! Hier is selfs kerkraadslede, leraars, teoloë, dominees, pastore, profete en priesters! Om die waarheid te sê, daar is geen gebrek aan godsdiens in hierdie tronk nie. Daar word elke Sondag twee eredienste in hierdie tronk gehou. By die skool en kultuur byeenkomste word daar gereeld met gebed geopen en uit die Bybel gelees.

Daar is egter 'n doodsvonnis oor elke persoon in hierdie tronk uitgespreek en elke persoon in hierdie tronk staar 'n ewige dood in die hel in die gesig, tensy ... jy tot bekering kom! Sommige het 'n lang sonde-rekord terwyl ander slegs een of twee klein sondetjies het. Baie van hulle noem hulleself "gelowiges", maar dit is slegs passiewe geloof - dit is slegs intellektuele geloof.  Elkeen in hierdie tronk is egter ongeredde mense wat nog nooit 'n stap van aktiewe geloof in Jesus Christus as hulle persoonlike Redder en Verlosser geneem het nie.

Daar is slegs EEN manier om uit hierdie tronk te kom - en dit is deur wedergeboorte! Jy moet tot bekering kom! Jy moet 'n getuienis van wedergeboorte en redding hê! Met ander woorde jy moet weet dat daar 'n dag in jou lewe aangebreek het dat jy jou rug op sonde, Satan en die wêreld gedraai het en jou hand na Jesus Christus uitgesteek het as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker. As jy nie van so 'n dag weet nie, en as jy nie die versekering in jou hart het dat jy weergebore is nie, kan jy vandag seker maak! Jy kan vandag uit die tronk van sonde vrygelaat word. Lees gerus verder.

B.   Die Politieke Tronk

Baie weergebore Christene bevind hulle egter in die politieke tronk - hulle is die slagoffers van 'n burgeroorlog. Dit is die tronk van die mens se sondige natuur. Burgeroorlog is die stryd tussen burgers van dieselfde land en die Bybel beskryf hierdie stryd in die Chisten se lewe as die stryd tussen die vlees en die gees. Die vlees is die Bybelse naam vir my sondige natuur. In sommige vertalings van die Bybel is die woord "vlees" inderdaad vertaal met "sondige natuur". Dus, wanneer die Bybel praat van die "vlees", word bedoel my natuurlike fakulteite met hulle oorgeêrfde begeertes en instinkte -- daardie ingebore, oorgeêrfde neiging van my hart om teen God se wil, woord, wet en plan vir my lewe te kies en te leef.

Gees, siel en liggaam ...

Die Bybel leer vir ons dat die mens 'n drieledige samestelling het, naamlik, gees, siel en liggaam. (Sien byvoorbeeld 1 Tes 5:23. Hierdie is 'n onderwerp op sy eie wat ons nie breedvoerig hier kan behandel nie.) Hierin lê daar egter 'n diep geheimenis opgesluit wat die antwoord bevat op elke Christen se innerlike stryd. Al kan ons nie in hierdie artikel in besonderhede op hierdie onderwerp uitbrei nie, is dit tog belangrik dat ons die oppervlakte sal skraap.

Gees, Siel, Liggaam

Die siel bestaan uit die mens se Wil, Intellek en Emosie. Wat nou belangrik is om te verstaan is dat elkeen van die tronke wat ons hierbo beskryf het - en elke moontlike tronk waarin jy jouself bevind - se grondoorsaak lê in die gevolge van die sondeval in jou sielsdimensie. Hierdie grondoorsake kan jou eie sonde of die sonde van iemand anders of ander mense in jou lewe wees, maar wat belangrik is om te verstaan is dat die grondoorsaak altyd sonde, die gevolge van sonde, of die sondige natuur van die mens is. As jy die probleem op 'n ander terrein gaan soek, sal jy nooit by die ware oplossing uitkom nie!

Wil, Intellek, Emosie

Let asseblief daarop dat die illustrasies in hierdie artikel nie 'n fisiese weergawe is van hoe die brein funksioneer nie. Dit is slegs denkbeeldige illustrasies om die funksies waarvan ons praat te onderskei.

Die Christen se burgeroorlog

Romeine hoofstuk 7 gee vir ons 'n raak beskrywing van die Christen se stryd met sy sondige natuur wanneer Paulus skryf: "Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees ('sondige natuur' - Red), niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?" Rom 8:18-24. (AOV)

Sommige Christene glo dat wat Paulus hierbo beskryf die normale standaard van die Christelike lewe is - maar moet dit nie vir een oomblik glo nie! Paulus beskryf die probleem - die tronk van die sondige natuur - en dan beskryf hy ook die oplossing - die weg na vryheid! Hy beantwoord sy eie vraag in vers 24 hierbo as volg: "Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde." Rom 7:25,26. (AOV) Laat my toe om dit vir jou mooi te verduidelik.

Twee Nature
Vlees teen die GeesFakulteite van die Intellek en Emosie

Die gevolge van die sondeval en die aard van die sondige natuur

Soos ons reeds gesê het, het elke tronk waarin jy as Christen jouself bevind sy oorsprong in jou sondige natuur of vlees. Dit beteken dus dat elke terrein van jou innerlike mens of sielsdimensie bevry moet word van die heerskappy van jou sondige natuur. Wat jy moet verstaan is dat in sommige, of dalk in elkeen van hierdie terreine van jou sielsdimensie daar 'n bedorwe lêer of lêers bestaan as gevolg van die sondeval, wat versoorsaak dat daardie terrein nie optimaal funksioneer soos God dit bedoel het nie.

Laat ek dit vir jou so illustreer. Wanneer 'n 'virus' of 'n 'wurm' of een van hierdie vyandige goggas wat mense gebruik om andere se rekenaars of selfone te sabboteer, jou rekenaar binnedring, veroorsaak dit dat sekere bedryfslêers op jou rekenaar of selfoon beskadig of bedorwe raak. Die gevolg is dat jou rekenaar of selfoon nie meer optimaal funksioneer nie en sekere funksies wil nie meer werk soos dit gewerk het toe jou rekenaar of selfoon nuut was nie.

Ek sit byvoorbeeld met die probleem dat my rekenaar se Windows-bedryfstelsel elke nou en dan ineenstort ("crash") - dan verloor ek al my inligting wat ek nie betyds gestoor het nie. Die bedryfstelsel van jou rekenaar of selfoon moet nou skoongemaak word en die beskadigde lêers moet vervang word voor jou rekenaar of selfoon weer optimaal sal funksioneer.

Dit is presies wat in ons sielsdimensie gebeur as gevolg van die sondeval. Sonde is soos 'n virus wat die terreine van ons sielsdimensie aantas, besmet, beskadig of vernietig. Hierdie terreine moet dus herstel word voor hulle weer optimaal sal funksioneer. Met ander woorde, die feit dat Jesus jou sonde vergewe het, alleen, sal jou nie noodwendig verlos van die gevolge van sonde in jou sielsdimensie nie - elkeen van die terreine van jou sielsdimensie moet ook herstel word van die verderflike gevolge van sonde voor jy waarlik vry sal wees. Die bedorwe lêers moet vervang word.

Kom ons gaan kyk nou kortliks na die terreine van die sielsdimensie afsonderlik

Die Gevolge van Sonde in jou Sielsdimensie

Jou Gedagtewêreld

Jou Gedagtewêreld is daardie terrein van jou sielsdimensie waar jou bewustlike denke plaasvind en jou gedagtes gesetel is. Die kanse dat een of dalk 'n hele paar lêers in hierdie terrein van jou Intellek korrup of bedorwe is deur die sondeval, is eintlik 'n sekerheid. Met ander woorde, jy dink somtyds, of miskien dikwels verkeerd oor dinge (insluitende die Skrif), en dink oor verkeerde dinge.

Jou Gedagtewêreld

Jou denke word beïnvloed deur jou opvoeding en jou verlede waarin verskillende rolspelers 'n aandeel gehad het - sommige ten goede, ander ten kwade. Wat jy moet weet is dat jou Gedagtewêreld gedryf word deur die bedorwe lêers van Selfbelang. Geen wonder dat die Bybel ons op verskeie plekke vermaan dat ons denke vernuwe moet word nie - onder andere in Rom 12:2: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is." (ANV)

Jesus wil jou Gedagtewêreld nuut maak en bevry van die bedorwe lêers van die gevolge van sonde en die tronk van jou Gedagtewêreld.
Jou Rede

Jou Rede

Jou Rede is daardie terrein van jou Intellek waar jou logika gesetel is. Jou Rede bepaal wat sin maak vir jou en wat nie. Maar wat jy moet besef is dat jou Rede besmet is met die sondevirus. Ook jou Rede word gedryf deur die bedorwe lêers van Selfbelang. Jy redeneer somtyds, of dalk dikwels verkeerd oor dinge (insluitende die Skrif), en redeneer oor verkeerde dinge.

Net soos met jou Gedagtewêreld, word jou redenasies beïnvloed deur jou opvoeding en jou verlede waarin verskillende rolspelers 'n aandeel gehad het - sommige ten goede, ander ten kwade. Geen wonder dat Jesus die Fariseërs soos volg moes aanspreek oor hulle verkeerde redenasies in Mar 2:8 nie: "En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte? ..." (AOV)

Jesus wil ook jou Rede vernuwe en bevry van die korrupte lêers van die gevolge van sonde en die tronk van 'n gevalle Rede.

Jou Gewete

Jou Gewete is daardie terrein van jou sielsdimensie waar jou moraliteit gesetel is. Hier besluit jy of iets vir jou moreel reg of verkeerd, aanvaarbaar of onaanvaarbaar is. Maar wat jy moet besef is dat ook jou Gewete besmet is met die sondevirus. Ook jou Gewete word gedryf deur die bedorwe lêers van Selfbelang.

Jou Gewete

Elke mens word met 'n gewete gebore, maar hoe die Gewete funksioneer hang af van hoe hy geleer is en onder watter invloed en heerskappy hy staan. Jou Gewete word beïnvloed deur jou opvoeding en jou blootstelling aan die moraliteit van jou ouerhuis, godsdiens, kultuur, skool en omgewing. Paulus kon getuig van 'n nuutgemaakte en geheiligde gewete in Han 24:16 nadat sy gewete hom vroeër toegelaat het om Christene in die tronk te gooi en te stenig: "Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê." (AOV)

Jou Gewete Praat
Jesus wil ook jou Gewete nuut maak en bevry van die bedorwe lêers van die gevolge van sonde en die tronk van 'n korrupte Gewete.
Jou Verbeelding

Jou Verbeelding

Jou Verbeelding is daardie terrein van jou sielsdimensie wat jou in staat stel om te visualiseer en om gedagtes van jou eie te skep. In jou Verbeelding kan jy 'n prentjie visualiseer van dit wat jy hoor of lees. Jy kan ook visuele gedagtes en gevoelens skep in jou Verbeelding sonder enige eksterne bron. Wat jy egter moet weet is dat ook jou Verbeelding gedryf word deur die bedorwe lêers van die gevolge van sonde.

Selfs weergebore Christene se Verbeelding is so aangetas deur die sondeval dat jou verbeeldingswêreld jou reguit sal lei na 'n tronk van misleiding en sonde tensy dit gereinig word van die korrupte lêers en vervang word deur nuwe geheiligde lêers. Selfs 'profete' moet teen hierdie gevaar gewaarsku word en daarom lees ons ook in Eseg 13:2,3: “Mens, tree jy as profeet op teen die mense wat hulle as profete van Israel voordoen. Sê vir dié mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding: Hoor die woord van die Here! So sê die Here my God: Ellende wag vir die verwaande profete wat geen gesigte gesien het nie en hulle deur hulle eie gedagtes laat lei." (ANV)

Jesus wil ook jou Verbeelding nuut maak en bevry van die korrupte lêers van die gevolge van sonde en die tronk van 'n gevalle Verbeelding.

Jou Geheue

Jou Geheue is die logistieke hoofkantoor van jou sielsdimensie. Jou Geheue is die inligting- of datasentrum van jou sielsdimensie. Jou Geheue is daardie terrein wat jou in staat stel om bewustelik te onthou. Dit kan vergelyk word met die geheue van 'n rekenaar. Ook jou Geheue is egter deur die sondeval besmet en wat jy doelbewustelik (en somtyds onbewustelik) onthou en vergeet word bepaal deur die bedorwe lêers van Selfbelang. Nou praat ek nie van jou vrou se versjaardag of julle huweliksherdenking nie - ek praat van geheue in die geestelike sin van die woord. Wat in jou Gedagtewêreld en Verbeelding aangaan hou in 'n groot mate verband met die inligting in jou Geheue.

Jou Geheue

Die woord "onthou" kom ongeveer 148 keer in die Bybel voor en regdeur die Bybel vermaan die Here Sy kinders om Sy verbond, Sy wet, Sy wil en Sy plan vir hulle lewens te onthou - byvoorbeeld in 1 Kor 11:23-25: "Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis." (AOV) (Beklemtoning my eie.) Daar is egter ook sekere dinge wat jy moet vergeet as jy vry wil wees. Paulus sê: "... ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus." Fil 3:14.  (AOV) (Beklemtoning my eie.)

Omdat jou Geheue bedorwe is deur die sondeval is jy van nature geneig om sommige verkeerde dinge te onthou en sommige regte dinge te vergeet. Jou natuurlike Geheue sal jou soos klokslag op geestelike gebied in die steek laat - daarom moet jou Geheue onder die beheer van die Heilige Gees kom om te kan funksioneer soos God dit bedoel het.

Jesus wil ook jou Geheue nuut maak en bevry van die korrupte lêers van die gevolge van sonde en die tronk van 'n gevalle Geheue.

Jou Onderbewussyn

Jou Onderbewussyn

Jou Onderbewussyn is die bergingsterrein of liaseerkabinet van jou sielsdimensie. Dit kan vergelyk word met die dataskyf of datastokkie van 'n rekenaar. (Deesdae is die kapasiteit van 'n datastokkie so groot soos 'n hardeskyf 'n paar jaar gelede.) Al die inligting en kennis wat jy opgedoen het van kleins af, al jou ondervindings wat jy gehad het, al die emosies wat jy beleef het, alles wat jy geleer het, al die foto's, films en dvd's waarna jy gekyk het, alles wat jy gelees en gesprekke wat jy gehad het, is in jou Onderbewussyn gestoor. Alles waaraan jy blootgestel is vanaf geboorte (en moontlik selfs voor jou geboorte in jou moeder se liggaam) is in jou Onderbewussyn opgeberg soos die data op die magnetiese skyf van 'n rekenaar, of soos die lêers in 'n liaseerkabinet. Die feit dat jy nie alles bewustelik kan onthou nie, maak geen verskil aan die feit dat dit alles daar in die Onderbewussyn is nie.

Die Onderbewussyn het waarskynlik 'n groter invloed op 'n mens se gedragspatrone as enige ander terrein van die sielsdimensie. Waar die Geheue 'n beperkte kapasiteit het, het die Onderbewussyn onbeperkte kapasiteit. Gedragspatrone word deur die Onderbewussyn geprogrammeer oor 'n lang tydperk en al kan jy die dinge wat in jou lewe gebeur het nie alles bewustelik onthou nie, lê dit daar in die Onderbewussyn en lei dit jou Gedagtewêreld, Rede, Gewete en Emosie in bepaalde rigtings na aanleiding van wat daarin gestoor is. Daarom staan daar in Gal 6:7,8: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai." (AOV) Die nuwe vertaling stel vers 8 so: "Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes." Met ander woorde, dit waarmee jou sintuie gevoed word (lees, kyk, sien, hoor, voel en proe) gaan lê in jou Onderbewussyn en beïnvloed op sy beurt weer wat in jou Gedagtewêreld en Verbeelding aangaan, en manifesteer later in jou gedrag. Ongelukkig is dit so dat baie, of dalk meeste van die inhoud wat op die akker van jou sondige natuur gesaai is, die verantwoordelikheid van andere is. As kind het jy min of geen beheer gehad oor die inhoud wat vandag in jou Onderbewussyn gestoor is nie - dit is die naakte werklikheid van die sondeval. Daarom het ouers so 'n geweldige verantwoordelikheid wanneer dit kom by die opvoeding van hulle kinders! Maar ek het vir jou goeie nuus!

Jesus Christus wil jou bevry uit die tronk van jou bedorwe Onderbewussyn.

Jou Selfbeeld

Jou Selfbeeld is daardie terrein van jou sielsdimensie wat bepaal hoe jy oor jouself voel en dink. Jou Selfbeeld is die setel van jou selfvertroue, selfrespek en selfliefde. Dinge wat ten nouste met jou Selfbeeld verband hou is jou trots, jou eergevoel, jou reputasie, jou regte, jou voorkoms, jou ideale en strewes, jou vermoëns en talente.

Wat jy egter goed moet verstaan is dat jou Selfbeeld bedorwe is deur die sondeval en hoe jy oor jouself dink en voel is myle verwyder van hoe God jou sien en oor jou voel. Die sondeval het veroorsaak dat jou Selfbeeld egosentries en selfgerig geraak het, in plaas van Godgerig. Van nature sal jy of 'n minderwaardigheidskompleks of 'n meerderwaardigheidskompleks hê - jy dink van nature of te veel, of te min van jouself. Jy dink van nature verkeerd oor jouself. Miskien bevind jy jouself vandag in die tronk van 'n swak selfbeeld; of miskien is jy in die tronk van verwerping; of miskien sit jy in 'n tronk van depressie. In die Bybel lees ons ook van persone wat met dieselfde stryd geworstel het - Hanna is een so 'n persoon. Ons lees in 1 Sam 1:6,7: "Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie."

Ek het egter goeie nuus vir jou.

Jou Selfbeeld
Jesus wil jou kettings verbreek - Jesus wil jou vrymaak van die tronk van jou egosentriese en selfgerigte Selfbeeld!
Jou Waardesisteem

Jou Waardesisteem

Jou Waardesisteem is daardie terrein van jou sielsdimensie waar jou persoonlike liefdes, jou voorkeure en afkeure, kwalifikasies en diskwalifikasies, simpatieë en antipatieë gesetel is. Dit sluit in jou liefde vir jou dierbares, jou man of vrou, jou kinders, familie en vriende, jou persoonlike besittings, jou beroep, stokperdjies, jou vermaak en musiek, jou land en kultuur - al jou voorliefdes en alles wat vir jou spesiaal is. Soos ons reeds gesê het, sluit dit ook jou afkeure, diskwalifikasies en antipatieë in. Wat jy egter moet verstaan is dat jou Waardesisteem aangetas is deur die sondeval en dit waarvan jy hou en nie hou nie skeef getrek is deur die sonde, en dikwels ver verwyder is van God se bedoeling en standaard vir jou lewe.

Toe Paulus tot bekering gekom het, het daar 'n totale verandering in sy Waardesisteem plaasgevind. Paulus het 'n totale kopskuif ondervind. Ons lees daarvan in Fil 3:7,8: "Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry." (ANV)

Miskien sit jy vandag in 'n tronk omdat jy verkeerde keuses gemaak het wat gedryf is deur 'n gevalle Waardesisteem. Miskien sit jy in die tronk van egskeiding. Miskien sit jy in 'n doodloopstraat by jou werk. Miskien het Jesus 'n ander beroep of werk vir jou, of jou dalk roep Hy jou voltyds tot Sy diens. Miskien sit jy in 'n finansiële tronk omdat Jesus 'n spesiale boodskap vir jou het oor hoe jy jou finansies bestuur, waarop jy jou geld bestee, en wat Hy van jou vra as offergawe. Wat ookal jou besondere omstandighede, ek het goeie nuus vir jou.

Jesus wil jou bevry uit die tronk van 'n gevalle en bedorwe Waardesisteem!

Jou Gemoed of Emosie

Jou Gemoed of Emosie is daardie terrein van jou sielsdimensie waar jou gevoelslewe gesetel is. Jou Gemoed is die setel van jou blydskap en vreugde, jou droefheid en hartseer, jou frustrasies en irritasies, jou woede, jou emosionele en seksuele liefdesgevoelens, jou skaamtegevoel, jou vrese, jou teneergedruktheid en depressiwiteit.

Toe God vir Adam en Eva geskape het, het Hy hulle geskep met 'n Gemoed wat Godgerig was en hulle het hulle vreugde en vervulling in Hom gevind. Die sondeval het egter veroorsaak dat hulle Gemoed egosentries of selfgerig geword het. Elke mens erf nou hierdie egosentriese en selfgerigte Gemoed oor van Adam met fisiese geboorte. Die gevolg is dat ons emosies van nature gevorm word deur waarneming van ons sintuie tesame met die inhoud van ons Gedagtewêreld, Rede, Verbeelding, Geheue, Onderbewussyn, Selfbeeld en Waardesisteem. Omdat elkeen van hierdie funksies aangetas is deur die sondeval is dit geen verrassing dat ons Gemoed of Emosie die mees onbetroubare terrein van ons sielsdimensie is nie! Jy kan onder geen omstandighede jou natuurlike emosies vetrou nie!

Jou GemoedJou Emosie

Geen wonder dat miljoene mense regoor die wêreld slagoffers is van 'n emosionele tronk nie! Jona is 'n tipiese voorbeeld van iemand wat in 'n emosionele tronk beland het. Ons lees dat Jona kwaad geword het omdat God vir Nineve gespaar het nadat hulle hul bekeer het, ten spyte daarvan dat hy geprofeteer het dat God Nineve sou verwoes. In Jona 4:3,4 lees ons: "Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?” (AOV) Jona se ego (Selfbeeld) is gekwes, toe ruk hy hom op en gaan sit buite die stad om te kyk wat gaan gebeur. Daar het die Here verder met hom gewerk.

Sit jy vandag in 'n emosionele tronk? Miskien sit jy vandag in 'n diep gat. Miskien het jy al moed verloor. Miskien oorweeg jy selfmoord. Miskien is jy 'n leraar of 'n sendeling of voltydse Christelike werker en jy is moedeloos - soos Jona sit jy daar buite jou arbeidsveld onder 'n komkommerplant. Ek het goeie nuus vir jou!

Jesus wil jou bevry uit jou emosionele tronk!

Jou Disposisie

Jou Disposisie is die venster van jou siel. Jou Disposie bepaal hoe ander mense jou sien en ervaar. Dit is daardie terrein van jou sielsdimensie waar jou persoonlikheid tot uitdrukking kom. Dit is die terrein waar die ander terreine van jou sielsdimensie verwerk word en na buite gekommunikeer word. Dit is waar jy reageer op jou gemoedstoestand, jou gedagtes, jou redenasies, die dinge wat jy onthou, jou waardes en hoe jy oor jouself voel en dink. Jou Disposisie verwerk en vertolk jou Gemoed na buite. Jou Disposie kan jou ware gevoelens na buite verberg, verander, of bevestig. Met ander woorde, as jou Gemoed bedroef voel, kan jou Disposie daardie gevoel aanvaar en kan jy bedroef na buite reageer, of jou Disposie kan die bedroefde gevoel verwerp en opgeruimd na buite reageer.

Jou Disposie 1

Jou Disposisie is ook daardie terrein waar jou gesindhede tot uitdrukking kom. Dit is daardie terrein wat langtermyn uitdrukking gee aan jou gevoelens. Dit is wat jy sê en doen, of nie sê en nie doen nie - en hoe jy dit sê en doen.

Jou Disposisie bepaal byvoorbeeld of jy 'n humeurige, liefdevolle, sensasionele, hoogmoedige, nederige, of vreesagtige persoon is. Jou Disposisie vorm 'n bepaalde gedragspatroon in reaksie op die ander terreine van jou sielsdimensie, wat dan as jou geaardheid of persoonlikheid na buite tot uitdrukking kom. Jou Disposisie is die enigste terrein van jou sielsdimensie wat vir die publiek sigbaar is.

Sit jy dalk vandag vasgevang in 'n tronk as gevolg van wat andere van jou dink? Ek het vir jou goeie nuus.

Jou Disposisie 2
Jesus wil jou verlos van die kettings van jou gevalle Disposisie!

C.   Die Militêre Tronk

Ons het hierbo die Politieke tronk beskryf. Daar is egter ook 'n derde tronk - 'n ander tronk waarin 'n Christen hom of haar moontlik kan bevind, naamlik die Militêre Tronk. Dit is die tronk waar krygsgevangenis aangehou word. Kinders van die Here wat in hierdie tronk sit is slagoffers van sataniese en demoniese aanvalle. Hulle is demoniese krygsgevangenis.

Die Christelike lewe is 'n oorlog - nie 'n Sondagskool piekniek nie! As jy bruikbaar in die hand van die Here wil wees, sal jy ongetwyfeld met Satan en sy bose magte te doen kry. Daarom waarsku die Here ons in Sy Woord: "Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." Ef 6:10-12.

Baie kinders van die Here het geen begrip van die geestelike oorlog waarin hulle hulself bevind nie. Dit is baie belangrik om kennis te neem van hierdie tronk, maar hierdie is 'n hele onderwerp op sy eie en ek behandel dit in 'n afsonderlike publikasie. Die titel van hierdie publikasie is Conquering Through Prayer en is tans slegs in Engels, maar as jy belangstel om dit te lees kan jy dit in pdf-formaat hier aflaai. Die geheim na jou vryheid lê egter op hierdie bladsy, al bevind jy jou moontlik in die Militêre Tronk.

Is jy vry?
Wil jy vry wees?
Jy kan vandag vry wees!

Ons het gesê dat die eerste ding wat jy moet verstaan as jy wil vry kom, is die tronk waarin jy jou bevind. Nou kom ons by die tweede.

2. Verstaan die Geheim van Bevryding

Bevrydende Geloof in Jesus Christus

Die geheim van bevryding en verlossing is soos 'n muntstuk met twee kante. Die een kant is God se kant en die ander kant is die mens se kant. Daar is sekere dinge wat God doen - dit word saamgevat deur die woord, GENADE. Maar daar is sekere dinge wat jy moet doen - dit word saamgevat deur die woord, GELOOF. Genade beteken niks sonder geloof nie - en geloof het geen waarde sonder genade nie. Ons gaan begin deur eerstens die mens se kant van hierdie muntstuk te verduidelik.

Wanneer ons sê daar is die mens se kant van bevryding en dat jy iets moet doen, praat ons nie van verdienste nie! Daar is niks wat jy kan doen om jou bevryding te verdien nie - dit is 'n gratis geskenk van God aan jou uit genade! Hy het klaar die prys vir jou vryheid aan die Kruis van Golgota betaal! Maar daar is 'n geheim! Daar is iets wat jy moet doen om hierdie genade in jou lewe te aktiveer. Hierdie geheim word bevat in die woordjie - geloof. Die geheim van bevryding op sy eenvoudigste gestel, is geloof in Jesus Christus! Daar is egter verskillende soorte geloof - daar is saligmakende geloof, daar is verlossende geloof, daar is vrymakende geloof, daar is aktiewe geloof en daar is passiewe geloof. Jesus het vir die twee blindes in Mat 9:28 gevra : "Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here." Toe sê Jesus vir hulle in vers 29: "Laat dit vir julle wees volgens julle geloof." (AOV) (Klem my eie.)

Wat behels die inhoud en omvang van bevrydende geloof? Wat is die geheim van bevrydende geloof in Jesus Christus? Die geheim van bevrydende geloof is om jou ten volle met Jesus Christus se plaasvervangende kruisdood en opstanding te vereenselwig en te identifiseer deur geloof. Die geloof waarvan die Bybel praat beteken om jou met Jesus Christus te indentifiseer. Wat beteken dit om jou met iemand te indentifiseer? Dit beteken om so oor daardie persoon te dink en voel asof dit jy self is.

Saam met Hom Gesterf

Die geheim van bevrydende geloof is opgesluit in die kruiswerk van Jesus Christus. Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het, het Hy in jou plek gesterf. Hy het egter nie slegs VIR jou gesterf nie. Wat jy moet verstaan is dat jy geestelik gesproke in Hom was toe Hy gesterf het. Dieselfde Heilige Gees wat in Hom was toe Hy aan die kruis gehang het en deur Wie Hy weer uit die dood opgewek is, is die Heilige Gees wat in jou hart kom woon met wedergeboorte. Met ander woorde, as die Heilige Gees in jou woon, het jy SAAM met Jesus gesterf. Dit is juridies jou posisie in Jesus Christus. Dit word egter slegs 'n praktiese werklikheid in jou lewe wanneer jy dit jou eie maak in geloof -- deur geloofsidentifikasie met Jesus Christus vir jouself toe-eien.

Saam met Hom Opgestaan uit die Dood

Jy het ook saam met Hom opgestaan uit die dood in 'n nuwe lewe. Dit word egter slegs 'n werklikheid in jou lewe wanneer jy hierdie juridiese waarheid vir jouself toe-eien deur geloofsidentifikasie met Jesus se opstanding en dit jou eie maak. Net soos Jesus uit die dood opgestaan, die grafdoeke waarmee Hy gebind was afgegooi het en die tronk van Sy graf se deur oopgegaan het toe die klip weggerol is - net so maak Hy jou vry uit jou geestelike tronk en bevry Hy jou van die grafdoeke en gevolge van die sondeval wat jou bind.

Saam met Hom Gesete in die Hemel

Jy is egter nie alleen saam met Jesus Christus opgewek uit die dood nie -- jy is ook saam met Hom gesete in die hemel. Daar staan in Ef 2:6: "... en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, .." (AOV) Die 1983-vertaling lees so: "Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, .."  (Klem my eie.) Hierdie versie verwys nie na die hemel as eendag wanneer ek sterf nie -- maar nou! Met ander woorde, daar is 'n lewe van oorwinning in Jesus Christus oor sonde, die wêreld, asook oor Satan en sy bose magte vir elke Christen hier en nou op aarde! Lees gerus ook Efesiërs hoofstuk 1 aandagtig deur, met spesiale verwysing na vers 15-23.

Jy mag nou wonder, waarom het dit dan nie met jou gebeur toe jy weergebore is nie? Sonder om in allerhande teologiese redenasies te verval - die antwoord is eenvoudig - omdat jy nie toe die kennis of die geloof gehad het om jou só met Jesus se dood en opstanding te indentifiseer nie.

Is jy vry?  Wil jy vry wees? Jy kan vandag vry wees!

Geloofsidentifikasie Verduidelik

Die Bybel verduidelik hierdie waarheid van geloofsidentifikasie met Christus op 'n paar verskillende maniere. Een beskrywing is in Han 16:31: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, ..." Die probleem is egter dat ons 'n beperkte kennis het van wat ons kan glo. Daarom het meeste Christene 'n beperkte geloof en glo hulle hoogstens dat Jesus vir hulle sondes gesterf het sodat hulle hemel toe kan gaan. 'n Ander beskrywing is Joh 1:12: "Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; ..." Die probleem is egter dat ons nie die volle implikasie verstaan wat dit beteken om Jesus aan te neem nie en daarom het meeste Christene slegs 'n beperkte ervaring van Christenwees na hulle wedergeboorte.

Die wonder van die Evangelie is dat die Heilige Gees mense wederbaar in antwoord op 'n eenvoudige opregte gebed, sonder om die implikasies of die potensiaal van daardie gebed te verstaan. Meeste Christene wat gered word vind eers op 'n later stadium uit wat regtig met hulle gebeur het. Die tragiek is egter dat soveel weergebore Christene klaarblyklik heeltemal tevrede is om by die eerste stappie van geloof in Jesus Christus te bly!

Paulus verduidelik hierdie geloofsidentifkasie met Jesus Christus se kruiswerk vir ons verder op verskillende plekke, onder andere in Gal 2:20: "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het."  (AOV) In Rom 6 beskryf Paulus dit so: "Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. ... As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, ..." Rom 6:3-8. (AOV)

Geloofsidentifikasie met Jesus Christus beteken om jouself op te gee (oor te gee) in die geloof om saam met Christus gekruisig te word en te sterf, in die geloof dat Hy jou sal opwek uit die dood in 'n nuwe lewe net soos Hy opgewek is!

Hoe Aktiveer Mens Geloofsidentifikasie?

Die vraag is egter, hoe aktiveer 'n mens so 'n geloofsidentifikasie met Jesus Christus in die praktyk? Natuurlik deur gebed. Jy verwoord 'n geloofsidentifikasie en bid dit dan tot die Here, maar wat behels die inhoud van hierdie geloofsidentifikasie? Hoe doen mens dit? Paulus gee weereens vir ons leiding in Rom 12:1: "En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen." (ANV)

Paulus gebruik hier twee terme wat aan ons duidelike leidrade gee. Die een is "gee" julleself en die ander is "heilige offer". Paulus vergelyk hierdie "gee" van julleself met die gee van 'n offer. In die Ou Testament het die Jode 'n dier uit hulle kudde as 'n offer vir die Here gegee. Vandag gee ons 'n deel van ons inkomste as 'n offer vir die Here. In beide gevalle word die offer weggegee vir die Here se doel ('n heilige offer) sonder dat die eienaar enige seggenskap meer daaroor behou. Nou sê Paulus - gee 'julleself' - dit is die wesenlik inhoud van geloof in Jesus Christus.

Die Betekenis van Algehele Oorgawe

Wat beteken die begrip, algehele oorgawe? Die geheim van geloofsbevryding is om elke terrein van my lewe, en dit sluit in elkeen van die terreine van die sielsdimensie wat ons hierbo bespreek het, deur 'n besliste stap van geloof in gebed, onvoorwaardelik aan die eienaarskap en heerskappy van Jesus Christus te oorhandig. Dit impliseer om afstand te doen van my regte. Dit impliseer om afstand te doen van my eie reg om te dink, te redeneer, te voel, te glo, besluite te neem of te doen, soos ek wil.

Laat ons egter die vraag beantwoord, wat impliseer algehele oorgawe? In die eerste plek beteken dit ek elke faset en elke terrein van my lewe aan Hom sal onderwerp. Dit beteken dat Hy aanspraak maak op my HELE lewe vir Sy doel. Die gesegde word somtyds gebruik: "Jesus is either Lord of all - or not Lord at all!" Dit beteken dat ek elke terrein van my lewe, soos ons hierbo bespreek het onder Sy heerskappy en gesag sal plaas. Dit beteken ook dat ek alles wat ek besit onder Sy heerskappy en gesag sal plaas - my huwelik, my man of vrou, my kinders, my beroep, my werk, my talente en gawes, my huis, my eiendom, my motor(s), my beleggings, my finansies, my sport, my vermaak, my voorkoms en my kleredrag, my tyd, my verhoudinge en vriendskappe, selfs my godsdiens en kerk - ja alles!

Ek wil graag hier 'n algemene misverstand uit die weg ruim. Baie Christene dink dat geestelike groei behels dat ek, soos ek geestelik groei, al meer en meer van my lewe aan Jesus oorgee. Nee, nee - duisend maal nee! Dit is nie geestelike groei nie - dit is 'n resep vir geestelike stagnasie, want jy sal nooit deur geestelike 'groei' by die plek uitkom waar jy algeheel oorgegee is nie! Algehele oorgawe is 'n aanvanklike, eenmalige posisie wat ek moet inneem, van waaruit ek groei soos die Heilige Gees dit kom toepas in my lewe! Die dag wanneer jy jouself algeheel aan Jesus Christus oorgee het jy moontlik nog slegs 'n beperkte kennis en insig in Sy Woord en wil vir jou lewe, en verstaan jy moontlik nog min van die implikasies van jou oorgawe - maar een ding weet jy - jy kan God vertrou met jou hele lewe!

Is jy vry?
Wil jy vry wees?
Jy kan vandag vry wees!

Hoe en waartoe moet ek my oorgee?

Die Bybel

Dit is nie 'n blindelingse, fatalistiese oorgawe nie! Ek moet my aan Jesus oorgee, maar wat impliseer dit?

Oorgegee aan die Gesag van Sy Woord

Die eerste en belangrikste implikasie, en die bron van alle vryheid is dat ek elke terrein van my lewe sal oorgee en onderwerp aan die gesag van Sy Woord. Dit beteken natuurlik eerstens dat ek elke woord in die Bybel aanvaar as die geïnspireerde en ewige Woord van God en dat ek elke terrein van my lewe aan die gesag van die hele Skrif oor my lewe onderwerp.

Uit die aard van die saak behels dit bekering. Dit impliseer dat ek my rug sal draai op alle sonde en dat ek gewillig sal wees om klaar te speel met elke vorm van sonde in my lewe - grotes sowel as kleintjies. Ek moet ook gewillig wees om af te sien van sekere dinge of gewoontes wat nie noodwendig sonde is nie, maar my daarvan weerhou om voluit vir Jesus Christus te lewe. 

1 Kor 9:24,25: "Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike." Die Heilige Gees sal aan jou openbaar wat dit is wat jy moet prysgee. As jy nie hiertoe bereid is nie, is jy nog nie desperaat genoeg om bevry te word uit jou tronk nie.

Oorgegee aan die Gesag van Sy Vergifnis

Vergifnis

Ons kom nou by 'n uiters belangrike punt. Ons het vroeër gesê dat die grondoorsaak van jou tronk dalk ander mense se sonde is. Miskien is jy mishandel of seksueel misbruik as kind. Miskien het daar baie traumatiese dinge in jou verlede gebeur wat daartoe aanleiding gegee het dat jy in een of ander sielkundige tronk sit. Miskien hou jy iemand anders verantwoordelikheid vir jou ongelukkigheid. Solank as daar iemand anders in jou lewe is met wie jy 'n probleem het, kan jy nie vry word nie!

Wat van absolute belang is om te verstaan as jy vry wil wees is, al dink jy dat jou tronk die gevolg van andere se sonde en optrede is, is jou vrymaking uitsluitlik 'n saak in jou eie hand! Vir solank as jy iemand anders of andere verantwoordelik hou vir jou tronk, sal jy nooit vryheid smaak nie! Hierdie is die wonder van die Evangelie - jou vryheid hang nie af van iemand anders nie want Jesus Christus het aan die Kruis van Golgota vir jou vryheid betaal namens elke ander mens op aarde wat moontlik teen jou gesondig het!

Ons praat van vergifnis. Jy moet buig onder die gesag van God se vergifnis -- nie alleen Sy vergifnis vir jou sonde nie -- maar ook Sy vergifnis vir jou oortreders se sonde! Uit die aard van die saak moet jy elke sonde in jou eie lewe na die lig bring en Jesus se vergifnis ontvang, maar jy sal ook hulle wat teen jou oortree het van harte moet vergewe! Vir solank as wat jy na 'geregtigheid' soek deur die veroordeling van iemand anders of andere, sal jy nooit vryheid smaak nie! Onvergewensgesindheid sal jou gyselaar hou in 'n emosionele tronk vir solank as jy dit vertroetel.

Of die persoon wat jy moet vergewe nou 'n dominee, 'n tennisafrigter, jou pa of ma, jou man of vrou, of 'n misdadiger is, stop eers hier en maak hierdie saak uit. Gaan praat met die Here hieroor in gebed. Vergewe elkeen wat jou seer gemaak het, tenagekom het, of bygedra het tot jou tronk - onvoorwaardelik. As jy met iemand moet praat of kommunikeer om dit te bewerkstellig - doen dit. Moet net nie andere se huwelike of lewens in die proses verwoes nie! Dit is soms beter om stil te bly en die saak net met die Here uit te maak. As jy met iemand moet praat, praat met 'n berader of jou leraar.

Jesus het gesê in Mat 6:14,15: "Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." (AOV) Hierdie is een van die grootste redes waarom sommige Christene nooit waarlik vry kom nie - hulle het nog nooit onvoorwaardelik vergewe nie.

Oorgegee aan die Gesag van Sy Wet

Tien Gebooie

Dit impliseer derdens dat ek elke terrein van my lewe sal oorgee en onderwerp aan die gesag van Sy wet. Die Woord van God bevat onder andere wette wat van toepassing is op my lewe, waarvan die wet van liefde vir God en my naaste die samevatting is. Sommige teoloë kry dit egter meesterlik reg om die morele wet van die Ou Testament (die tien gebooie), maar dan veral die vierde gebod uit die Bybel weg te redeneer asof dit in die Nuwe Testament opgehef sou wees vir die Christen.

Geen deel van die wet is opgehef in Christus nie - dit is vervul in Christus! Dit is nie moontlik om hier op hierdie onderwerp uit te brei nie, maar weet dit, as jy nie bereid is om jou aan die gesag van die morele wet van God, en by name aan die heiliging van die dag van die Here - een dag uit sewe afgesonder as rusdag vir Hom (die Sabbatsgebod), te onderwerp nie, jy nooit volle vryheid sal vind nie. Jy sal vasgeketting bly in die tronk van 'n gevalle en bedorwe Waardesisteem.

As jy jou nie eers kan oorgee aan die gesag van die vierde gebod nie - hoe gaan jy jou ooit kan oorgee aan God se standaard van liefde en Sy groter wil vir jou lewe?

Ons is tog so bang vir wettisisme, maar iemand wat vrygemaak is van die wet het geen probleem met die wet of wettisisme nie want die wet is op die tafel van sy hart geskryf. Is jy al vrygemaak van die wet, of sit jy miskien vandag in 'n tronk van wettisisme?

Kan ek egter vir jou 'n ander vraag vra - leef jy dalk in 'n misleide, kunsmatige vryheid omdat jy die morele wet van God weggegooi het omdat jy glo dit nie meer van toepassing is op jou as Christen nie? Dan moet ek jou ernstig waarsku - jy leef in die tronk van Misleide Vryheid. Miskien dink jy die deur van jou tronk is wawyd oop - maar net soos in die geval van die Kriminele tronk, sal 'n dag aanbreek dat die tronk van Misleide Vryheid se deure toeklap.

Oorgegee aan die Gesag van Sy Wil vir jou Lewe

Laat U wil geskied

Algehele oorgawe aan Jesus Christus impliseer egter vierdens dat ek elke terrein van my lewe sal oorgee en onderwerp aan die gesag van Sy wil. Die algemene wil van God word geopenbaar in die Skrif, maar die spesifieke wil van God vir my lewe word geopenbaar deur die leiding van die Heilige Gees aan my persoonlik. Dit beteken dat ek geen besluit sal neem, geen keuse sal uitoefen, geen stap sal neem, sonder om seker te maak wat die wil van God vir my lewe is nie. Dit beteken byvoorbeeld dat ek in geen liefdesverhouding betrokke sal raak tensy ek weet dat dit God se keuse vir my as huwelikmaat is nie. Dit beteken byvoorbeeld dat ek en my vrou die besluit oor wanneer en hoeveel kinders om te hê by God sal uitklaar en nie self daaroor sal besluit nie. Dit beteken verder byvoorbeeld dat ek nie 'n huis of motor sal koop, of 'n belegging sal maak, of 'n besigheid sal begin tensy ek nie daaroor gebid het en die Here se wil vir my lewe met oorgawe gesoek het nie.

Hierdie mag dalk vir jou na die beskrywing van 'n ander tronk klink, maar moenie oppervlakkig oordeel nie -- die gevolg van jou oorgawe sal die deur oopmaak na 'n lewe van vryheid in Christus waaroor jy nie eers gedroom het nie.

'n Woord van waarskuwing - die duiwel sal jou wil laat verstaan dat 'n Wilsoorgawe aan God beteken om jou Wil, Gedagtewêreld en Emosie passief te maak. Met ander woorde om jou gedagtes leeg te maak, aan niks te dink nie en toe te laat dat die Heilige Gees Sy gedagtes en emosies in jou Gedagtewêreld en Emosie plaas. Dit is 'n dwaling van die Satan met die doel om jou oor te plaas na 'n ander tronk - die tronk van Misleiding! Die oomblik dat jy jou gedagtes en jou wil passief maak, maak jy die deur oop vir demoniese werking in jou lewe. Dit is waarom allerhande manifestasies in sommige kerke plaasvind wat in stryd is met die Woord van God. Die Heilige Gees sal nooit jou eie Wil, Intellek en Emosie kaap vir Sy doel nie, want dan oortree Hy sy eie skeppingsdoel. God het die mens geskep as 'n soewereine entiteit na Sy eie beeld - met 'n Wil, Intellek en Emosie van sy eie. Daarom sal die Here niks in enige persoon se lewe doen waarvoor jy Hom nie spesifieke toestemming gee en vertrou in geloof nie!

Oorgegee aan die Gesag van Sy Plan met jou Lewe

Jou roeping

Algehele oorgawe aan Jesus Christus impliseer egter vyfdens dat ek elke terrein van my lewe sal oorgee en onderwerp aan die Here se plan en doel met my lewe. God het 'n heerlike doel en plan vir elkeen van Sy kinders. Jesus Christus het 'n spesiale taak en roeping vir elke kind van God. Elke kind van God het 'n spesiale en unieke roeping - en dit is die enigste plek in die lewe waar jy egte en blywende lewensvervulling sal kry! Ook jy het 'n Goddelike roeping! Voor die Here dit aan jou sal openbaar, moet jy eers by die plek kom waar jy jouself onvoorwaardelik daaraan sal onderwerp - wat dit ookal mag inhou! Onthou net - dit is nooit te laat om God se roeping vir jou lewe te vind nie - al is jy reeds afgetree!

Oorgegee aan Sy Gedelegeerde Gesag oor jou Lewe

Gesag

Die vorige vyf terreine van oorgawe het alles te doen my onderwerping aan die gesag van God oor my lewe. Nou kom ons by die onderwerping aan God se gedelegeerde gesag oor my lewe. Algehele oorgawe aan Jesus Christus impliseer laastens dat jy jou onvoorwaardelik sal onderwerp aan God se gedelegeerde gesag wat oor jou gestel is. Of jy 'n man of vrou is, die gesag van die owerhede, jou baas by die werk, jou leraar en geestelike leiers. As jy 'n getroude vrou is, die gesag van jou man as koning, priester en profeet van julle huis. As jy 'n kind in jou ouerhuis is (maak nie saak of jy bo 21 is nie), die gesag van jou ouers. As 'n Goddelike gedelegeerde gesagslyn in jou lewe geskend word sal dit die werking van die Heilige Gees in jou lewe kortsluit, want die Heilige Gees werk in die eerste plek deur God se gedelegeerde gesagstruktuur.

Met ander woorde, daar is sekere dinge wat die Heilige Gees slegs deur die owerhede (waarvan jy nie hou nie), jou baas by die werk (wat moeilik is), of jou geestelike leiers by die kerk (van wie jy verskil), aan jou sal openbaar. Meneer, daar is sekere dinge wat die Here slegs deur jou vrou aan jou sal openbaar, omdat daar 'n sin en tyd is waarin jy ook aan haar onderdanig moet wees. Mevrou, daar is sekere dinge wat die Heilige Gees slegs deur jou man aan jou sal openbaar - veral wanneer hy sy taak as koning, priester en profeet van die huis met die hulp en leiding van die Here probeer uitvoer, en jy jou teen sy gesag verset. Liewe seun en dogter, daar is sekere dinge wat die Here slegs aan jou sal openbaar deur jou pa of ma - en veral wanneer jy jou teen hulle gesag verset. Met ander woorde, die oomblik dat jy jou teen God se gedelegeerde gesag oor jou lewe verset, kan jy seker wees dat jy die werking van die Heilige Gees in jou lewe kortsluit en beperk, en stel jy jouself oop vir misleiding! As jy dit op 'n gereelde grondslag doen, sal die Heilige Gees in jou lewe geblus of bedroef word.

Voor ons nou by die klimaks kom, laat ons net weer seker maak dat ons nou presies verstaan wat dit is wat ek doen wanneer ek 'n algehele geloofsoorgawe maak.

Is jy vry?
Wil jy vry wees?
Jy kan vandag vry wees!

Wat beteken algehele oorgawe met betrekking tot my sielsdimensie?

Dit beteken dat ek my Gedagtewêreld, Rede, Gewete, Verbeelding, en Geheue as gekruisig saam met Christus beskou, uitsluitlik tot God se beskikking stel, en dat ek Jesus Christus in geloof vertrou om elkeen van hierdie terreine te herskep en vernuwe, en deur die Heilige Gees aan my die insig en krag te gee om elke gedagte, redenasie, saak of voorstelling wat in stryd is met God se Woord, Sy vergifnis, Sy wet, Sy wil, Sy plan en Sy gedelegeerde gesag oor en vir my lewe, aan die gesag van Sy Woord te onderwerp.

Dit beteken dat ek my Onderbewussyn uitsluitlik tot God se beskikking stel met betrekking tot dit wat ek daarin saai en dat ek Jesus Christus in geloof vertrou om my Onderbewussyn te herprogrammeer, en deur die Heilige Gees elke lêer wat daar lê wat in stryd is met God se Woord, Sy vergifnis, Sy wet, Sy wil, Sy plan en Sy gedelegeerde gesag, in my Onderbewussyn te sluit en kragteloos te maak.

Die oorwinnende lewe

Dit beteken dat ek my Selfbeeld, Waardesisteem, Gemoed en Disposisie uitsluitlik tot God se beskikking stel en dat ek Jesus Christus in geloof vertrou om elkeen van hierdie terreine te herskep en vernuwe, en deur die Heilige Gees aan my die insig en krag te gee om elke beeld, waarde, emosie, gevoel en wat andere van my dink, wat in stryd is met God se Woord, Sy vergifnis, Sy wet, Sy wil, Sy plan en Sy gedelegeerde gesag oor en vir my lewe, aan die gesag van Sy Woord te onderwerp.

Met ander woorde, wat jy eintlik aan God oorgee is jou WIL, INTELLEK en EMOSIE.

Onthou net - wanneer jy 'n algehele oorgawe aan Jesus Christus maak beteken dit NIE dat jy jouself verbind om volmaak te wees NIE. Wanneer jy hierdie oorgawe maak, het jy moontlik slegs 'n beperkte kennis en begrip van die Skrif en die wil van God vir jou lewe - maar jy verbind jouself daatoe om in al die lig te wandel wat jy het, insluitende die lig wat die Heilige Gees aan jou sal openbaar deur Sy Woord in die toekoms. Heiligmaking is 'n proses wat begin by die wonderwerk van bevryding en verlossing.

Die Wonderwerk van Bevryding

Wat sal met jou gebeur wanneer jy 'n algehele oorgawe aan Jesus Christus maak? Die Heilige Gees sal jou hart en lewe vervul! Die Heilige Gees sal volle besit neem van jou hart en lewe! Elke terrein van jou lewe sal onder die beheer en bestuur van die Heilige Gees kom! Jy sal volle verlossing ondervind! Elke band wat jou bind sal van jou afval soos vrot velle! Elke ketting wat jou bind sal afval soos Petrus se boeie in Han 12:7 en Paulus en Silas se boeie in Han 16:26! Jou tronkdeure sal oopgaan!

Wil jy vry wees? Neem dan nou 'n stap van geloof en bid die onderstaande gebed hardop saam met my.

Sê nou maar ...

Sê nou maar jy bid hierdie gebed en niks gebeur nie? Moenie op gevoelens staat maak nie! Staan suiwer op die Woord en beloftes van God!

Maar sê nou maar jy bid hierdie gebed en niks verander nie? Sê nou maar jy bid hierdie gebed en jy bly steeds gevange in jou tronk? Dan lê die probleem slegs by een of albei van twee plekke: 1. Daar is 'n terrein of iets in jou lewe wat jy terughou en nie bereid is om aan die gesag van Jesus Christus en Sy Woord te onderwerp nie. Jy is nog nie desperaat genoeg om uit jou tronk te kom nie. Jy dink jou tronkdeur staan nog op 'n skrefie oop en jy kan self daar uitkom. 2. Jy wil vry wees, maar jy is nie bereid om jou Bevryder met jou hele lewe te vertrou nie. Jy vertrou Jesus Christus nie onvaarwaardelik met elke terrein van jou lewe nie. Jou gebrek aan geloof hou jou in die tronk.

Maar ...

As jy desperaat en opreg genoeg is om te besef dat slegs die Here jou tronkdeur kan oopsluit en jy bereid is om 'n algehele en onvoorwaardelike oorgawe aan Jesus Christus te maak, en jy geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie het, ...

Dan nooi ek jou uit om nou 'n stap van aktiewe geloof te neem en die onderstaande gebed hardop saam met my te bid.

Lees eers die gebed deur en maak seker dat jy saamstem met die inhoud en dat dit jou persoonlike hartsgebed verteenwoordig. Maak toe jou deur en bid dit dan hardop vir die Here.

Dierbare Here Jesus Christus, ek verstaan dat U aan die kruis van Golgota met U eie Bloed betaal het, nie alleen vir my sondeskuld nie, maar ook vir my volkome verlossing en bevryding van die mag van sonde en my sondige natuur! Ek verstaan ook dat U 'n wonderlike plan van oorwinning en vrugbaarheid vir my lewe het en dat U my wil vul met U Heilige Gees!

Ek kom in hierdie oomblik in diepe verootmoediging na U troon van genade toe. Ek erken teenoor u dat ek in 'n tronk sit en U bevryding nodig het. Ek bely dat my lewe nie op U standaard is nie! Ek erken die verdorwenheid van my eie sondige natuur! Ek bely dat ek nie oorwinning oor sonde en my sondige natuur het nie en dat ek 'n lewe van geestelike neerlaag lei. Ek kom kniel nou in diepe berou oor my eie sondige toestand, my selfgesentreerdheid en my ongeloof by die kruis van Jesus. Ek bely ook elke sonde waarvan ek bewus is in my lewe. Was my rein van elke sonde in die Bloed van die Lam, maar skep ook vir my 'n rein hart, O God! (Bely elke bewuste sonde by die naam voor God, en sluit elke toegangspoort vir Satan en sy bose magte deur Jesus se bloed, in geloof.)

Ek vergewe ook elke persoon wat teen my gesondig het en ek onderwerp my aan die gesag van U vergifnis. Ek vergewe vir .... (noem elke persoon by die naam teenoor wie jy 'n gevoel van onvergewensgesindheid het.)

Ek draai hierdie oomblik my rug op sonde en my sondige natuur, en ek sluit 'n verbond met U om my onvoorwaardelik te onderwerp aan die gesag van U Woord, U vergifnis, U wet, U wil, U plan en U gedelegeerde gesag vir en oor my lewe! Ek gee in hierdie oomblik myself -- ja elke terrein van my WIL, INTELLEK en EMOSIE -- aan U oor om saam met Christus gekruisig te word. Alles wat ek is en wat ek besit, gee ek aan U oor sodat U, U hemelse plan in en deur my lewe tot uitvoering kan bring!

Kom neem asseblief beheer oor van elke terrein van my lewe! Verlos my van elke band wat my bind en sluit my tronkdeur oop! (Noem jou tronk en dit wat jou bind by die naam.) Vul nou my hart en lewe met U Heilige Gees!

Ek neem nou my posisie in as gekruisigde saam met Christus in die geloof! Ek (plaas jou eie naam hierin) is saam met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my; en die lewe wat ek nou nog hier in die wêreld lewe, leef ek deur geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê! (Gal 2:20) Wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus! (Fil 3:7-11)

Ek neem ook nou my posisie as opgestaan uit die dood en gesete in die hemel saam met Christus in. U Woord sê in Christus Jesus het U my saam met U opgewek uit die dood en my saam met U 'n plek in die hemel gegee. (Ef 2:6) Deur die geloof kom neem ek nou my opstandingsposisie en oorwinnaarsposisie in op grond van U Woord, in die Naam van Jesus Christus my Here!

Dankie vir die beloftes van U Woord en ek eien in hierdie oomblik elke belofte in U Woord vir myself toe in geloof! Ek glo U wanneer U sê dat U dié beloon wat U met hulle hele hart soek! Ek glo dat U nou volle beheer van my lewe oorgeneem het deur U Heilige Gees. Ek loof en prys U, Here Jesus! Ek het U lief, Here Jesus! Amen.

Wat nou?

1. Nou moet jy op die Woord van God staan en in die beloftes van Sy Woord wandel. Moenie op gevoelens staatmaak en na bonatuurlike manifestasies of bewyse soek nie! Gaan net eenvoudig vorentoe in geloof! Geloof! Geloof! Geloof! Geloof in God en Sy Woord! As daar bonatuurlike manifestasies volg, is dit 'n bonus - maar moenie daarop staatmaak nie want dit kan kom en gaan en verskil van persoon tot persoon. Die bewys van die vervulling met die Heilige Gees is NIE die spreek in tale of enige ander manifestasie nie. Die bewys van die vervulling met die Heilige Gees is 'n oop tronkdeur, verlossing van, en oorwinning oor die mag van sonde en die sondige natuur waarvan die vrug vir ons beskryf word in Gal 5:22.

Die enigste bonatuurlike manifestasie wat jy moet verwag is dat jou tronkdeure oopswaai en jou boeie afval! 2 Kor 3:17 sê: "Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid." En Gal 5:22 sê: "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing."

2. Elke Geesvervulde kind van God ontvang ook 'n spesiale gawe van die Heilige Gees waarmee jy die Here moet dien! Daar is algemene gawes van die Heilige Gees sowel as spesiale gawes van die Heilige Gees. Elke kind van die Here ontvang die Heilige Gees met Sy algemene gawes. Elke Geesvervulde kind van die Here ontvang egter ook 'n spesiale gawe.

Die spesiale gawes wat die Here uitdeel is onbeperk en verskil van individue tot individu. Moenie dink dat omdat iemand anders 'n bepaalde spesiale gawe het jy dieselfde gawe moet hê nie. Ons lees byvoobeeld in Ex 31:3-5: "Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper, en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk." In die Ou Testament het die Heilige Gees slegs sekere geroepenes vervul en gesalf vir 'n bepaalde taak, maar op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort op die hele Kerk. Die feit dat elkeen op Pinksterdag in Han 2:8 in 'n bekende taal gepraat het is 'n vervulling van Han 1:8: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde." Hiervoor is ook jy geroep!

Hoe sal jy weet wat jou spesiale gawe is? Die Heilige Gees sal dit self op die regte tyd aan jou openbaar as jy vervul is met die Heilige Gees. Moet egter nooit tevrede wees met die gedagte dat jy geen spesiale gawe ontvang het nie. As dít jou getuienis is, soek die volheid van die Heilige Gees -- nie 'n gawe of manifestasie nie!  

3. Streef daarna om geestelik te groei. Maak daagliks tyd vir God in gebed en Sy Woord. Maak seker dat jy elke Sondag twee keer in die kerk is, skakel in by jou gemeente, lees geestelike boeke en tydskrifte, kyk na DVD boodskappe!

4. Maak seker dat jy elke dag die wapenrusting van God soos in Ef 6:10-18 uiteengesit, aan het en wandel daarin!

5. Wees 'n aktiewe getuie vir Jesus -- ook deur jou gebeds- en finansiële ondersteuning vir wêreldsending! Raak betrokke by die uitdra van die Evangelie na die uithoeke van die wêreld. Hieronder gee ons vir jou besonderhede hoe jy betrokke kan wees by die uitdra van die Evangelie deur die internet.

Ons nooi jou om meer te lees by die skakels hieronder.
'Wil-Jy?' Skakels
Wil jy nou jou saak met God regmaak en seker maak van jou redding en wedergeboorte?
Volg hierdie skakel

Wil jy 'n hernude of dieper oorgawe aan die Here maak? Wil jy met die Heilige Gees vervul wees?
Volg hierdie skakel
'Lees-Meer' Skakels
Lees meer oor die doel van, en oplossing vir probleme en beproewing in jou lewe.
Die Oplossing

Lees meer oor God se doel met jou lewe en hoe om dit te vind.
Vind Jou Doel

Lees meer oor wedergeboorte en hoe om dit te ondervind.
Hoe Om Weer Gebore Te word
'Lees-Dieper' Skakels
Soek jy na ware vryheid? 
Word Vry!

Hoe Om Jou Ware Doel En Roeping In Die Lewe Te Vind
Volg hierdie skakel

Lees hier meer oor die vervulling met die Heilige Gees en hoe om dit te ondervind.
Volg hierdie skakel

Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

© Kopiereg 2018 Projek KuberWêreld.
Alle Regte Voorbehou.

| Privaatheid | Vrywaring