Hoe Om Jou Ware Doel Te Vind

Aan jou gebring deur Projek KuberWêreld
In vennootskap met Bybelgelowige Christelike kerke en medewerkers

God het 'n wonderlike plan en doel vir jou lewe en elke ander mens op aarde. Dis hoekom Hy jou gemaak het! God het jou gemaak met 'n baie spesifieke doel en plan in gedagte, en Hy het 'n begeerte in elke mens se innerlike wese ingeplant om jou doel in die lewe te vind.
God het 'n groot en heerlike doel en plan vir jou lewe!

Dit is die rede waarom elke mens op aarde wanneer ons groot word, soek na ons doel in die lewe. Ons is so gemaak! Die dag toe jy skool en universiteit verlaat het, moes jy een van die belangrikste besluite in die lewe neem, naamlik, wat gaan ek doen met my lewe?!

Daar is 'n leë en onvervulde vakuum in elke mens se lewe totdat ons ons doel gevind het! God het ons so gemaak, en tensy ons ernstig na ons doel soek, sal ons lewens onvervuld bly!

Hoe tragies is dit om menigte mense regoor alle terreine van die lewe - ryk en arm, jonk en oud - te sien op die ashoop van onvervulde drome. Mense gryp na elke strooihelm in hulle soeke na vervulling. Sommige gee hulle oor aan musiek, sport, werk, sielkunde, die internet, of geld vir vervulling; terwyl ander verder gaan en gryp na alkohol, dwelms, pornografie, seks en misdaad - net om uit te vind dat nie een van hierdie dinge ware en blywende vervulling kan bring nie!

Vervulling gaan altyd hand aan hand met doel. Om ware vervulling te vind moet jy jou doel vind!

Wie bepaal jou doel?

Is dit jou ouers? Is dit jou voorouers? Is dit jou klas of status? Is dit jou opvoeding, opleiding of kwalifikasies? Is dit jyself? Die antwoord op hierdie vraag hou die sleutel tot die ontdekking van jou doel!

Ons het goeie nuus vir jou! Om jou doel te vind gaan gladnie moeilik wees nie, want jou doel is reeds bepaal deur jou Skepper!

Jy is geskep deur God vir 'n baie besliste doel en jy sal bo verwagting verbaas wees wanneer jy ontdek wat dit is!

Om jou doel te verstaan moet jy eerstens verstaan wie jy is! Het jy al probeer om jou familie stamboom te bou op Ancestry.Com? Sommige mense het ontdek dat hulle afstam van 'n arm- of werkersklas, terwyl ander ontdek het dat hulle afstam van 'n adelike voorgeslag. Het jy al ooit die storie gehoor van iemand wat in armoede geleef het en later ontdek het dat hy of sy eintlik 'n afstammeling van 'n koninklike of skatryk familie was? Daar is baie sulke stories, maar die tragedie van ons dag is dat biljoene mense regoor die wêreld in geestelike, fisiese en emosionele armoede leef omdat hulle nie weet wie hulle is nie!

Weet jy wie jy is? Weet jy regtig van wie jy afstam? Miljoene mense in die wêreld glo dat hulle oer-oupagrootjie 'n aap was. Ons het so 'n tyd gelede gaan besoek aflê by Maropeng in die sogenaamde "Wieg Van Die Mens" wêrelderfenisgebied en hierdie fotos daar geneem.

Dit is verstommend dat mense dit kan glo! Dit is nog meer verstommend dat miljoene mense verkies om dit te glo! In die Beeld van 2 Februarie 2018 skryf 'n sekere persoon onder die opskrif, "So aanbid ons moderne jong mense": "... Ons glo nie meer aan Adam en Eva nie, want wetenskap toon duidelik wat die mens se evolusie is." Regtig? Jy kan natuurlik glo wat jy wil, maar as jy jou ware doel wil vind, sal jy by die waarheid moet uitkom!

Ons wil graag vandag vir jou die WAARHEID vertel! Jou groot-groot oupa- en oumagrootjie was Adam en Eva. Jy is geskep na die beeld van God! Jy is geskep om 'n kind van God te wees, om deel te wees van die Goddelike familie, op presies dieselfde manier dat jou eie kinders gebore word na jou beeld en deel is van jou familie! Daar is oorweldigende getuienis om hierdie waarheid te bevestig as jy bereid is om daarna te soek en onder die oppervlakte (nie van die grond nie - van die getuienis) te gaan delf!

Sê nou maar jou pa is 'n koning, wat maak dit jou? 'n Prins of prinses, nie waar nie? Wel, dit mag jou skok, maar jy is geskep om 'n prins en prinses van God, die Skepper van die heelal te wees! As jy 'n lid is van die menslike ras (homo sapiens) is jy 'n afstammeling van die Koninklike Familie - ook nie sommer enige koninklike familie nie - DIE KONINKLIKE FAMILIE! Die 'bloed' van God die Skepper van die heelal 'vloei deur jou are'! Daar is slegs EEN rede waarom jy jou Goddelike erfenis en doel tot nou toe gemis het - en dit is die sondeval!

God se skepping van die mens is die grondslag van die Christelike geloof en ons lees in die heel eerste hoofstuk van die Bybel, in Gen 1:26-28: "En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor... die hele aarde ...  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers ..."

God het 'n heerlike doel en plan vir jou lewe as 'n lid van die Goddelike familie -- wat jou geestelike sowel as jou fisiese welstand insluit!

Hierdie doel en plan sluit eerstens in jou verhouding met Hom en jou geestelike welstand, maar dit sluit ook in jou huwelik en gesinslewe, jou werk en loopbaan, jou finansies, jou huis, ja selfs jou sport en ontspanning. God se doel en plan vir jou lewe is volmaak en jy word volmaakte vervulling daarin gewaarborg. Ware vervulling en geluk kan slegs gevind word in die middelpunt van God se doel en plan vir jou lewe - want jy is so geskape!

Die groot vraag is natuurlik, waar leer 'n mens van God, Sy doel en Sy plan vir jou lewe? Jy sal natuurlik nie verbaas wees as ons jou onmiddellik na die Bybel verwys nie. Maar nou weet ons dat jy moontlik baie vrae in jou gemoed het. Jy het ongetwyfeld al gehoor, of in die koerante gelees hoe mense en sommige teoloë die waarheid van die Bybel bevraagteken en afkraak.

Kan jy die hele Bybel glo?

'n Mens kan nou 'n hewige debat oor hierdie onderwerp voer en argumente vir of teen die Bybel as die geopenbaarde waarheid van God teen mekaar opweeg. Maar weet jy, niks daarvan sal jou 'n millimeter nader aan die waarheid bring nie! Weet jy hoekom? Die Bybel gee self die antwoord daarop, onder andere in 1 en 2 Korintiërs. Ons lees byvoorbeeld in 1 Kor 2:14: "Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word."

Die Bybel is in geestelike taal geskryf en om die Bybel te kan verstaan moet 'n mens geestelike taal magtig wees. Dit is die enigste boek in die wêreld wat in geestelike taal geskryf is en al die kennis van die oorspronklike tale (Grieks en Hebreeus) sal niemand enigsins nader aan die waarheid bring nie - tensy jy geestelike taal verstaan! En daar is slegs een manier om geestelike taal te verstaan en dit is dieselfde manier waarop jy jou doel vind! Dit is die punt waarby ons wil uitkom, maar voor ons daar kom wil ons net kortliks vir jou tien redes gee waarom jy die Bybel kan vertrou as die onfeilbare, ewige, onveranderlike Woord van die Lewende God:

1. Die eerste rede is dat NIEMAND in die hele wêreld wat nog ooit na die waarheid van God gesoek het met 'n eerlike en ongeveinste hart, misluk het om die waarheid van God in die Bybel te vind nie! Miljoene mense het dit oor die eue heen gevind en miljoene mense vind dit vandag! Ons daag enige iemand uit om aan ons EEN persoon te wys wat met 'n eerlike en ongeveinste hart na die waarheid van God in die Bybel gesoek het - en dit nie gevind het nie! Jy sal natuurlik moet kan bewys dat die persoon na die waarheid met 'n eerlike en ongeveinste hart gesoek het.

2. Die tweede rede is die wonder van die Bybel se samestelling. Die Bybel is geskryf oor 'n tydperk van ongeveer 1400 tot 1800 jaar deur meer as 40 verskillende skywers en bevat 66 boeke, 1189 hoofstukke en 31,240 verse -- wat bestaan uit EEN samehangende boodskap, wat begin by Genesis hoofstuk 1 en eindig by Openbaring hoofstuk 22 -- waarvan elke boek en hoofstuk 'n onmisbare deel vorm van die samehangende geheel, sonder 'n enkele teenstrydigheid in sy konteks. Wat dink jy is die kans dat 'n boek wat geskryf is deur 40 verskillende skrywers oor 'n tydperk van 1800 jaar so 'n resultaat tot gevolg sou hê? (Sommige sal natuurlik vinnig wil reageer deur te sê dat daar talle teenstrydighede in die Bybel bestaan. Daar bestaan slegs teenstrydighede vir diegene wat nie geestelike taal magtig is nie.)

3. Die Bybel is finaal saamgestel in die jaar 387 N.C. en is vir die afgelope 1600 jaar wêreldwyd aanvaar deur die Christelike Kerk in sy geheel as die geïnsipireerde Woord van God sonder enige verdeeldheid! Die Bybel is die grootste verkoper van alle boeke in die geskiedenis en is ook die mees vertaalde boek in die wêreld. Die Bybel kan deur die grootste deel van die wêreldbevolking gelees word en sal binne 'n relatief kort tydperk die ENIGSTE boek in die wêreld wees waarvan minstens 'n gedeelte in al 7,000 tale van die wêreld vertaal is! (Daarmee sal 'n belangrike Bybelse profesié in vervulling gaan!)

4. Die Bybel het geen grense nie. Die Bybel het geen nasionale, kulturele, klas, ras, taal of politieke grense nie en is die Woord van God vir elke nasie, stam en taal regoor die wêreld deur al die eeue. Miljoene mense regoor die wêreld, in elke land van die wêreld, ontdek daagliks die waarheid van God in die Bybel.

5. Die Bybel openbaar God se ware doel met die skepping en Sy ware doel en plan vir elkeen van Sy skepsels. Die Bybel openbaar ook die rede vir die toestand van die wêreld. Die Bybel bevat nie alleen God se volmaakte oplossing vir die sosiale probleme van die wêreld nie, maar bevat bowe al die enigste en volmaakte herstelplan vir die sondeval. Die Bybel is die enigste boek in die wêreld wat 'n oplossing bied vir die probleem van sonde en die sondeval, en bied sekerheid van verlossing en oorwinning vir elkeen wat glo!

6. Die Nuwe Testament van die Bybel openbaar die geskiedenis van Jesus Christus, God die Seun, die Verlosser van die wêreld, Sy kruisiging, Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart. Hierdie is onweerlegbare feite waarvan menigtes ooggetuies was. Terwyl baie oor die eeue heen, waarvan ons huidige geslag geen uitsondering is nie, probeer het om hierdie feite te bevraagteken en selfs onwaar te bewys - het nog niemand daarin geslaag nie! Terwyl daar oorweldigende bewyse is wat hierdie feite staaf, het niemand nog ooit daarin geslaag om dit verkeerd te bewys nie. Ten beste het kritici daarin geslaag om onbetroubare boodskappe te versprei wat deur sommige geglo word wat nie geestelike taal verstaan nie (al het hulle doktorsgrade in Grieks en Hebreeus).

7. Die 'Profeet' van die Bybel is die enigste 'profeet' van enige geloof met 'n leë graf! Die grafte van alle ander profete is gevul met dooie bene. As dit bewys kan word dat Jesus Christus nie opgewek is uit die dood nie, sal die Christelike geloof sterf! As Jesus Christus nie opgestaan het uit die dood nie, is die Christelike geloof waardeloos en het al sy kritici gelyk. Dan is die Christelike geloof 'n fabrikasie van menslike verbeelding en gelyk aan enige ander godsdiens in die wêreld. Maar as Jesus Christus se opstanding uit die dood waar is - verander dit alles! Miljoene mense regoor die wêreld het alreeds, en kom steeds tot die onweerlegbare gevolgtrekking dat Jesus Christus lewe en Homself lewend openbaar aan elke persoon wat Hom in waarheid soek!

8. Die Bybel is die uiteindelike bron van alle vordering, vooruitgang, ontwikkeling, welvaart en vryheid in die wêreld. Die politieke stelsels van demokrasie, vryheid van keuse, onderwys en opleiding, en 'n vrye ekonomie is almal oorgeêrf van Bybelse beginsels. Waar die Bybel geëer en geleef word, is daar vooruitgang en ontwikkeling. Waar die Bybel afwesig is of onderdruk word is daar regressie, agteruitgang, armoede, konflik en gebrek aan vryheid. Hierdie is die rede waarom 53% van die wêreld se inkomste aan 33% van die wêreld se Christelike bevolking behoort.

9. Die Christelike geloof kan nie uitgewis word nie, want dit is gebou op die ewigheidsbeginsels van die Bybel. Hoe meer Christene doodgemaak en vervolg word, hoe meer groei die Kerk! "Die bloed van die martelaars is die saad van die Kerk!" Hierdie waarheid is bewys in China waar so kort as 70 jaar gelede, in 1949, daar minder as 4 miljoen Christene was nadat alle buitelandse sendelinge verban of vermoor is deur 'n mees onderdrukkende kommunistiese regime. Vandag is China vinnig oppad na die land met die grootste Christelike bevolking in die wêreld, met skattings van oor die 100,000,000 en groeiende!

10. Die tiende rede waarom ons in die Bybel glo as God se geopenbaarde en onfeilbare Woord is omdat God, die Skepper van hemel en aarde, Hom aan ons persoonlik geopenbaar het deur sy bladsye. Een van ons vertel: "Toe ek met God ontmoet het, het niemand vir my vertel dat die God van die Bybel die ware God was nie - dit was 'n openbaring. Dit was nie 'n intellektuele openbaring nie, maar 'n geestelike openbaring tot die mate dat tot op hierdie dag ek steeds 'n intieme geestelike verhouding met God die Vader het deur Jesus Christus, my Verlosser en Here - en niemand en geen argument sal my ooit anders oortuig nie - want ek beleef Hom as 'n lewende werklikheid!"

Hoe Om Jou Ware Doel Te vind

Jy het egter op hierdie webblad beland omdat jy na jou ware doel soek -- en ons gaan nou die antwoord vir jou gee. Ons het gesê dat 'n mens jou ware doel slegs op een manier vind -- en dit is dieselfde manier om geestelike taal magtig te word. Die antwoord is -- deur wedergeboorte. Wedergeboorte beteken om geestelik gebore te word. Ons wil graag vir jou stap vir stap verduidelik wat wedergeboorte is, hoekom dit noodsaaklik is, hoe om weer gebore te word, en hoe om te weet dat jy weergebore is. Om meer te leer oor wedergeboorte, volg hierdie skakel.

Om te soek na, en jou Godgegewe doel te vind en te verwesenlik, IS DIE BELANGRIKSTE DING wat jy ooit in jou lewe sal doen, maar dit is 'n saak van jou eie vrye keuse! Daarom moet jy 'n vrywillige keuse maak om hier te klik.
Ons nooi jou om meer te lees by die skakels hieronder.
'Wil-Jy?' Skakels
Wil jy nou jou saak met God regmaak en seker maak van jou redding en wedergeboorte?
Volg hierdie skakel

Wil jy 'n hernude of dieper oorgawe aan die Here maak? Wil jy met die Heilige Gees vervul wees?
Volg hierdie skakel
'Lees-Meer' Skakels
Lees meer oor die doel van, en oplossing vir probleme en beproewing in jou lewe.
Die Oplossing

Lees meer oor God se doel met jou lewe en hoe om dit te vind.
Vind Jou Doel

Lees meer oor wedergeboorte en hoe om dit te ondervind.
Hoe Om Weer Gebore Te word
'Lees-Dieper' Skakels
Soek jy na ware vryheid? 
Word Vry!

Hoe Om Jou Ware Doel En Roeping In Die Lewe Te Vind
Volg hierdie skakel

Lees hier meer oor die vervulling met die Heilige Gees en hoe om dit te ondervind.
Volg hierdie skakel

Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

© Kopiereg 2018 Projek KuberWêreld.
Alle Regte Voorbehou.

| Privaatheid | Vrywaring