In Noorweë is daar ‘n tronk, die Bastoy Gevangenis, wat bestaan uit netjiese huisies, waar die gevangenes luukshede soos tennis, perdry en visvang kan geniet en in die son kan lê en bak. Daar is ook weelderige plase waar gevangenes kan werk en dikwels vergeet dat hulle gevangenes is.
In Skotland, Oostenryk, Spanje, Neu Zealand en Duitsland bestaan daar tronke wat luukse akkommodasie aan hulle gevangenes verskaf, toegerus met TV’s in die kamers, sommige selfs met ‘n eie privaat badkamer en kombuis, en waar hulle hulself kan bekwaam in ‘n verskeidenheid van beroepe. In sommige gevangenisse kan ‘n hele gesin saamwoon, soos by die huis.
Die enigste verskil tussen die inwoners van hierdie tronke en die mense daarbuite, is dat hulle nie vry is nie — hulle is gevangenes.
Voor ons terugkom na die luukse tronk, wil ons jou egter eers vertel van ‘n gevangene in die geskiedenis wat ter dood veroordeel was en in die dodesel gewag het vir die dag van sy teregstelling. Hierdie man was betrokke by ‘n opstand en in die proses het hy ‘n moord gepleeg.
Terwyl hy egter in die tronk gewag het op sy teregstelling, het ‘n ander drama homself daarbuite afgespeel. ‘n Ander man is deur die owerhede gevange geneem en voor die hof gebring. Hierdie man was egter heeltemal onskuldig maar is deur die skare wat saamgedrom het in ‘n skare-hof skuldig verklaar. As gevolg van die wette wat gegeld het in daardie tyd kon die regter egter besluit om ‘n gevangene wat skuldig verklaar is vry te laat onder sekere voorwaardes, en het aangebied om hierdie gevangene vry te laat. Die skare het egter daarop aangedring dat die regter die ander gevangene wat aan moord skuldig is, vry laat en hierdie gevangene tot die dood veroordeel.
Die naam van die gevangene wat vrygelaat is, is Barabbas — en die naam van die gevangene wat tot die dood veroordeel is, is Jesus Christus, die Seun van God! Jy kan die volle verhaal gaan lees in die Bybel in Lukas 23:1-25.
Terwyl hierdie drama homself afgespeel het in die teenwoordigheid van Pilatus, was Barabbas in die tronk geheel en al onbewus van die feit dat hy so pas vrygespreek is. Hy het niks daarmee te doen gehad nie, hy het dit nie verdien nie, hy het selfs nie eers daarvoor gevra nie. Al wat hy weet is dat die wagte vir hom die seldeur oopgesluit het en hy vry was om die tronk te verlaat. Jesus Christus het sy doodstraf op Hom geneem. Barabbas was ‘n vry man. Al wat hy moes doen was om uit te stap na vryheid.
Elke mens op aarde word in die tronk van sonde gebore — ter dood veroordeel, in afwagting op die voltrekking van die ewige doodsvonnis. Toe Adam en Eva teen God gesondig het in die Paradys het hulle kinders en nasate hulle sondige ‘DNA’ oorgeêrf met geboorte. Elke mens word onder die oordeel van God gebore en is tot die ewige dood gevonnis met geboorte. Jy en ons is elkeen ‘n Barabbas! Elke mens op aarde is ‘n Barabbas. Elkeen van ons is in die tronk van sonde gebore en die doodsvonnis is oor ons uitgespreek!
Die wonder van die verhaal is egter dat Jesus Christus, die Seun van God, in jou en my plek gesterf het aan die Kruis van Golgota! Jesus Christus is in jou en my plek tot die dood veroordeel sodat ons vry kan uitgaan! Jou en my tronkdeur staan oop! Daar is reeds vir jou en my vryheid betaal! Al wat jy moet doen is om uit te stap in geloof!
Daar is egter ‘n hartseer saak met betrekking tot hierdie verhaal. Miljoene mense, insluitende kerkmense, wat hierdie verhaal en hierdie feite ken, sit nog steeds in die tronk — en wanneer hulle sterf, steeds onder die oordeel van die ewige dood en verlore! Waarom? Wel, daar is hoofsaaklik twee redes wat ons aan jou wil verduidelik.
Die eerste rede is omdat sommige glo dat omdat die tronkdeur oop is, is hulle klaar vry en het hulle nie nodig om op te staan en uit die tronk te stap nie. Hulle voel so tuis in die luukse tronk dat hulle heeltemal tevrede is om net daar te bly. Hulle glo hulle kan maar kom en gaan soos hulle wil. Die feit van die saak is egter dat die deur van die luukse tronk sluit wanneer hulle tot sterwe kom en die doodsvonnis word voltrek! Hierdie mense het nie die aanbod tot vryheid aanvaar nie!
Die tweede rede waarom baie egter nog steeds in die tronk sit, is omdat hulle besef dat hulle hierdie lekker tronk en al sy voordele sal moet agterlaat en ’n onbekende wêreld betree waar daar geen sekuriteit is nie, behalwe geloof in Jesus Christus alleen. Die prys na vryheid is vir hulle net te hoog.
Jy sal jou rug op jou tronklewe moet draai! Jy sal jou tronkvriende moet agterlaat. As jou vrou en kinders saam met jou in die tronk is, sal jy hulle in die toekoms slegs deur tralies beleef. Jy sal jou sekuriteit moet agterlaat. Jy sal jou tronkvermaak en -plesier moet agterlaat. In hierdie lekker tronk het jy baie voordele gehad wat daarbuite gladnie gewaarborg is nie. Jy sal jou tronklewe moet agterlaat! Jy sal jou verslawings en pornografie moet agterlaat. Jy sal jou vuil taal, leuens en oneerlikheid moet agterlaat. Jy sal elke sonde in die tronk moet agterlaat. Jy sal jou tronkklere moet uittrek en jou tronk-identiteit moet agterlaat!
Jy sal jou rug moet draai op jou tronklewe en ‘n nuwe lewe moet instap suiwer in geloof in Jesus Christus. Jy sal jou tronk-identiteit moet verruil vir ‘n nuwe identiteit in Christus! Jy sal ‘n algehele oorgawe tot ‘n nuwe lewe in Jesus Christus moet maak terwyl jy geen idee het wat die nuwe lewe vir jou inhou nie — behalwe dat jy God kan vertrou! Jy sal onwrikbaar op Jesus Christus moet vertrou. Jy sal ‘n stap in geloof moet neem na vryheid in Christus!
Is jy een van die miljoene mense wat met ‘n oop tronkdeur in die tronk bly sit? Dan moet ons jou waarsku — moenie dink omdat jou tronkdeur oop is jy sal die doodstraf vryspring nie — jy moet ‘n geloofstap na vryheid neem! Jesus Christus sê vandag vir jou: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is. ... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Joh 8:34,36. Om vry te word moet jy weer gebore word. Jesus het in Joh 3:3 gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Kan ons jou help om uit te stap uit die tronk in ‘n nuwe lewe? Ons wil graag aan jou verduidelik hoe om weergebore te word. Volg hierdie skakel na ‘Hoe Om Weer Gebore Te Word’.
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media