‘n Pastoor wat sy gemeentelede met DOOM gespuit het, is skuldig bevind aan ‘n misdaad en gevonnis. ‘n Mens wonder nogal wat iemand se motief sou wees om so iets te wil doen. Volgens die nuusberigte wou hy mense met Doom genees. Eienaardig - om die minste te sê. As jy ons opinie vra, sou ons dink hy wou dalk probeer bewys dat Mar 16:17,18 in die Bybel waar is. Daar staan: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, ... slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; ...” Miskien soek jy ook na bewyse dat die Bybel nog relevant is in ons moderne tyd. Lees gerus verder.
Die Doom-verhaal het ons egter laat dink aan ‘n ‘Doem-Profeet’. Ons beskou iemand as ‘n doemprofeet wanneer hy of sy slegte nuus voorspel. Die ‘Doom-Profeet’ het eintlik goeie nuus voorspel — hy het voorspel dat Doom jou geen skade sal doen as jy in Jesus Christus glo nie — wat natuurlik ‘n verdraaiïng van die boodskap van die Bybel is. Toe eindig dit in slegte nuus. ‘n Doemprofeet kan egter slegte nuus voorspel wat eindig in goeie nuus. Een van die bekendste verhale van ‘n doemprofeet in die Bybel is dié van Jona.
Jona het ‘n opdrag van die Here ontvang om aan Ninevé te verkondig dat God die stad gaan verwoes as hulle hul nie bekeer nie. Jy ken mos die verhaal van Jona, nie waar nie? Miskien dink jy ook soos sommige ‘slimmes’ dat die storie van Jona en die groot vis ‘n mite is. Gelukkig het Jona nie DOOM nodig gehad om te bewys dat sy boodskap van God kom nie, want almal het hom dadelik geglo en hulle bekeer!
Die feit van die saak is egter dat die boodskap van Jona aan Ninevé nog net so waar en relevant is vir jou en elke ander mens op aarde soos dit was in daardie tyd, naamlik, as jy nie tot bekering kom nie staan jy onder die oordeel van God!
Dit is egter nie net slegte mense wat tot bekering moet kom nie! Jona, die profeet van die Here, moes ook tot bekering kom! Jona het ‘n opdrag en roeping van God ontvang, maar toe klim hy op ‘n skip na Tarsus — weg van die Here af. Miskien is jy ook op ‘n verkeerde skip oppad na ‘n verkeerde bestemming. Miskien is daar ook ‘n storm op jou lewenssee. Miskien woed daar ‘n storm in jou binneste omdat jy ver van God af is! Jy kan ook soos Jona, jouself gaan toesluit in jou ‘kajuit’ onder in die 'skip' en hoop die storm bedaar gou — of jy kan in geloof oorboord spring in die hande van God se genade. Wat gaan jy doen? Jesus Christus het klaar vir jou redding, oorwinning en uitkoms bewerkstellig aan die Kruis van Golgota! Maar jy sal moet oorboord spring! Jy sal uit die skip van jou weerstand teen God se wil vir jou lewe, jou eiewilligheid, eiegeregtigheid en sonde moet spring!
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” - Jesus Christus in Joh 3:3. Jesus het ook gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg." Mat 16:24.
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media