‘n Motorfietsryer het sy balans verloor en onderdeur ‘n bewegende trok gegly sonder om iets oor te kom. Hy het die hele episode op video vasgelê op sy helm-gemonteerde kamera. Die video wys hoe hy beheer verloor oor sy motorfiets en dan val, terwyl die momentum hom reg onderdeur ‘n verbygaande trok slinger sonder dat ‘n wiel oor hom ry. Die enigste teken van sy noue ontkoming was ‘n skeur in sy broek op die knie. Ongelooflik! Hoe gelukkig kan ‘n mens wees!?
Miljoene ander mense in die wêreld is egter nie so gelukkig nie. Byvoorbeeld, in 2016 het ‘n Tanzaniese man gesterf toe ‘n vis wat hy gevang het en in die vlak water by sy voete gelê en spartel het, skielik in die lug ingespring en binne die man se mond en keel gaan vassit het. Die man het versmoor voor ‘n dokter hom kon red. In 2010 het ‘n man gesterf toe ‘n baal gras wat 590kg geweeg het, op ‘n plaas afgerol het van ’n skuinste en die man wat toevalig op daardie oomblik met sy voertuig daar verby gery het, verpletter het.
Daar sterf elke dag 151,600 mense in die wêreld; 6,316 sterf elke uur; en 105 sterf elke minuut! (Bron: http://www.ecology.com/birth-death-rates/.) Hoe weet jy of jy nie deel van hierdie statistiek gaan wees volgende jaar nie? Die vraag is, is jy gereed vir die dood? Baie mense neem versekering en begrafnispolisse uit om vir hulle afhanklikes te sorg met afsterwe, maar helaas, min mense maak voorsiening vir die ewigheid hierna! Is jy seker van jou ewigheidsbestemming? Daar bestaan slegs EEN kwalifikasie vir redding en dit is wedergeboorte! Jesus het gesê: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." Joh 3:3,8. Het jy ‘n getuienis van wedergeboorte?
Baie mense 'GLO' hulle is gered, maar bou op valse fondamente. Hier volg ‘n paar voorbeelde van valse fondamente waarop baie hulle verwagting vir die ewigheid bou:
Ek glo ek is gered. (Jy moet ook die getuienis van die Heilige Gees in jou hart hê dat jy weergebore is.)
Ek het in 'n Christelike huis en die kerk grootgeword. (Jy moet steeds weer gebore word.)
Ek is baie godsdienstig. (Die duiwel ook! Hy vermom hom as 'n engel van die lig.)
Ek is lidmaat van die kerk en gaan gereeld kerk toe. (Jy moet steeds weer gebore word.)
Ek het belydenis van geloof afgelê. (As jy nie toe weer gebore was nie, het jy valslik belydenis van jou geloof afgelê.)
Ek is gedoop. (Geen doop - groot of klein - kan jou red nie.)
Ek dien op die kerk- of gemeenteraad. (Judas was ook een van Jesus se twaalf dissipels.)
Ek voel die teenwoordigheid van die Here gedurende lofprysing in die kerk. (Om weergebore en gered te wees is baie meer as 'n gevoel.)
Ek het 'n sondaarsgebed gebid of êrens in die verlede my hart vir Jesus gegee. (Die vraag is, het jy toe die getuienis in jou hart ontvang dat jy dat weergebore is en toon jou lewe die vrug van Goddelike lewe?)
Ek ervaar die seën van die Here in my lewe. (God stort Sy seën oor alle mense uit. Die ryskte en welvarendse mense in die wêreld is ongelowiges!)
Ek glo in God en Jesus Christus as Seun van God. (Die duiwel glo dit ook.)
Ek het een of ander gawe, teken of visioen ontvang. (Geen gawe, teken of visioen is 'n substituut vir wedergeboorte nie.)
Iemand het redding oor my gespreek of geprofeteer. (Regtig? Wow! Net God die Heilige Gees kan dit doen!)
Die ware Kerk van Jesus Christus bestaan uit weergebore, bloedgewaste kinders van God. Is jy deel van die ware Kerk? Het jy ‘n getuienis van wedergeboorte? As jy nie ondubbelsinnig seker is dat jy 'n geredde, bloedgewaste, weergebore kind van God is nie, wil ons jou graag help om sekerheid te verkry. Volg hierdie skakel om te leer hoe jy weergebore kan word.
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media